Lees ook: Beskuldigde in Senzo Meyiwa-saak het glo wapens aan huurmoordenaars verkoop
PRETORIA. – Een van die prokureurs vir twee van die beskuldigdes in die Senzo Meyiwa-moordsaak word glo aangekla van poging tot moord.
Advokaat Thulani Mngomezulu het glo in November 2022 moeilikheid gehad na ’n insident van huishoudelike geweld waarby sy vrou betrokke was. Hy het glo petrol gekoop en wou hulle huis met sy vrou en kinders daarbinne afbrand.
Sy vrou, wat saam met hom aan die Meyiwa-saak werk, het klagtes teen hom gelê, maar het dit probeer onttrek. Die NPA het egter geweier om die klagtes terug te trek.
Mngomezulu word glo aangekla van poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, oortreding van ’n beskermingsbevel en die teësit teen inhegtenisneming.
Hy het ook die klagtes teengestaan en hom selfs tot die Noord-Gauteng-hooggeregshof in Pretoria daaroor gewend.
Die hof het die NPA beveel om ’n konsultasie met Mngomezulu te hê en dan ’n memorandum te skryf oor of die verhoor sal aangaan of nie.
Volgens nuusbronne sal die konsultasie glo aan die einde van Februarie plaasvind.
Bronne: EWN, Briefly, IOL
Lees ook: Beskuldigde in Senzo Meyiwa-saak het glo wapens aan huurmoordenaars verkoop





