CHINA. – Minstens 111 mense is Maandag dood nadat ’n aardbewing ’n koue en bergagtige streek in die noordweste van China getref het.
Reddingsoperasies is onderweg in die Gansu- en Qinghai-provinsies. Meer as 230 mense is beseer terwyl paaie en huise ook beskadig is. Krag-en kommunikasielyne is in verskeie gebiede uitgeslaan.
Die aardbewing het ’n fokuspunt van 10 km onder die oppervlak gehad. Volgens inligting is die aardbewing se episentrum 5 km vanaf die Gansu-Qinghai-grens in die Jishishan-streek, ongeveer 1 300 km suidwes vanaf Beijing, China se hoofstad.
Die VSA se geologiese opname het die aardbewing as ’n kategorie 5,9-aardbewing geklassifiseer.
Aardbewings vind gereeld in die westelike dele van China plaas omdat daardie deel van die aardoppervlak opgedruk word om die oostelike randgebied van die Tibettaanse plato te vorm.
Bronne: Global News, New York Times, BBC





