Mirandi met die goue stem stel ‘Wille Sarie’ as enkelsnit vry

Lees ook :

Foto: Hendri Viljoen Scholl Photograpy

Mirandi (Mörsner), die lewenslustige naaswenner van Die Kontrak 3, se nuwe weergawe van Wille Sarie is as enkelsnit vrygestel en sy wys daarmee sy kan net so goed skryf as sing.

Sy het Wille Sarie in die kompetisie gesing. Dit het Emo Adams se oë laat rek en die kenners was gaande daaroor. Die sangeres, wat hartsnare met country en gospel raak, het al oor en oor bewys waarom sy so gewild is en as naaswenner in die gesogte kompetisie uitgestap het.

Wille Sarie is geskoei op die 1950’s treffer Good Golly Miss Molly deur Little Richard. Wille Sarie gaan oor iemand wat streng grootgemaak is, maar bietjie wil uitkom en gaan dans.

“Die idee vir Wille Sarie het begin toe ons op pad see toe was. Ek is baie streng grootgemaak. Ons mag nie uitgegaan het en gaan dans het of na sokkies toe gegaan het nie. Wille Sarie is ’n lewendige liedjie wat ’n kant van my wys wat almal ken. Almal weet ek is sag, maar ek kan ook lekker laf wees as ek die dag lus is. Dit som myself op.”

“Dit gaan oor die hardwerkendes wat net ’n bietjie wil litte losmaak,” verduidelik Mirandi verder.

As Jy Bid is na Die Kontrak 3 vrygestel en het Mirandi se ondersteuners gaande gehad. Nou hoop sy Wille Sarie sal ook met ope arms ontvang word en ook dat mense mense dadelik daarop sal wil dans.

Mirandi sê die liedjie sorg klaar vir nostalgie vir dansbare musiek van die jare 1950 en terugvoering oor die liedjie is positief.

Die sangeres, met talent in oormaat, benadruk sy plaas haar toekoms in die Here se hande en Hy sal haar op die regte paaie in haar loopbaan lei.

Mirandi het nie self vir Die Kontrak 3 ingeskryf nie. Haar man, Chris Mörsner, het inisiatief geneem en haar Think Twice van Celine Dion laat sing en ingeskryf. Dit kan hier onderaan die berig gesien word. Die video het haar onmiskenbaar ‘n klomp aanhangers besorg. Sy moes egter agterna in Afrikaans sing en het 17 Shots van Christia Visser gekies, wat haar onder leiding van Tarryn Lamb tot reg op Die Kontrak 3 se verhoog en reg in die harte van gehore in die land geneem het.

Wat was hierdie lewenslustige en vrolike sangeres, klein van postuur, met ‘n stem groter as die lewe, se hoogtepunt van haar deelname aan Die Kontrak 3? Vir haar was dit beslis om “Grootbaas” Arnold Coleske te ontmoet en sy sê sy waardeer Coleske Artist Management se ondersteuning.

Wille Sarie is op alle stroomdienste beskibaar en kan hier gekry word.

Hier onder kan weergawes van Wille Sarie (gedeeltelik) soos op Die Kontrak 3-verhoog, Think Twice en 17 Shots gesien word.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief