VRYSTAAT. – ’n Bejaarde (81) vrou is Sondagmiddag leweloos deur haar dogter, wat vir haar kos geneem het, in ‘n slaapkamer aangetref. Sy het ‘n stuk materiaal om haar nek gehad en kneusplekke was aan haar bene sigbaar.
Luidens ‘n verklaring van polisiewoordvoerder, AO Mmako Mophiring, het Emily Mphuthi se dogter omstreeks 12:30 haar ma leweloos op haar bed by haar huis in Intabazwe naby Harrismith aangetref. Die polisie is ontbied. Daar was geen duidelike tekens dat by die huis ingebreek is nie. Die rede vir die aanval is nog nie bekend nie. ‘n Nadoodse ondersoek sal die presiese oorsaak van haar dood bepaal.
’n Moorddossier is geopen. Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om speur.kapt. Vusimuzi Zwane by 060 976 4290 te bel.





