PRETORIA. – Die dood van ’n bekende figuur in die Pretoriase mediese kringe word tans as ’n moordondersoek hanteer nadat sy liggaam Vrydagoggend in ’n gastehuis aangetref is.
Die slagoffer, Braam Kruger (40), was die afgelope ses en ’n half jaar die uitvoerende hoof van EQiGate SA, ’n gesondheidstegnologiemaatskappy in Pretoria. Sy dood kom slegs dae voor sy 41ste verjaarsdag.
Volgens kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder van die SAPD se Tshwane-distrik, dui voorlopige inligting daarop dat die betrokke gastehuis Donderdag, 2 April 2026, ’n oproep ontvang het van ’n man wat drie kamers vir homself en sy vriende bespreek het.
Ses mans het later by die gastehuis opgedaag, by ontvangs aangemeld en kontant vir die verblyf betaal. Personeel het aangedui dat dit voorgekom het asof die groep mekaar geken het op grond van hul interaksie.
Vyf van die mans het omstreeks 20:00 die perseel in ’n Uber-voertuig verlaat, vermoedelik om kos te gaan koop.
Personeel het Vrydagoggend, 3 April 2026, omstreeks 08:00 op Kruger se liggaam in een van die kamers afgekom. Hy was vasgebind en daar was duidelike tekens van ’n worsteling.
Nooddienste is ontbied, maar Kruger is op die toneel dood verklaar. Die motief vir die moord is nog onbekend en geen arrestasies is teen druktyd aangemeld nie. Misdaadtoneelbestuurders het die toneel gefynkam vir bewyse as deel van die voortgesette ondersoek.





