Brekende Nuus
Nuus

Russiese toeris op N4 doodgeskiet ná beweerde voorval van skerpgemaakte spykers

Foto: Ter illustrasie
Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – ’n Russiese toeris is Donderdagaand 5 November op die N4 by Onverwaght doodgeskiet en sy vrou is aan haar linkeroog beseer. Die egpaar was op pad na die Krugerwildtuin. Volgens die Russiese nuusdiens RTVI het die Russiese ambassade in Suid-Afrika die oorledene teenoor RIA Novosti as Anatoly Nizovtsev geïdentifiseer.

Lt.kol. Isaac Mudau, polisiewoordvoerder, sê die Bronkhorstspruit-polisie het omstreeks 22:00 ’n berig oor die skietery ontvang. Polisiebeamptes het die man se liggaam met verskeie skietwonde aangetref. Die beseerde vrou het haar as sy eggenote geïdentifiseer. Die polisie ondersoek ’n moordsaak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Volgens First Care Emergency het die man naby Ekandustria stilgehou om ’n band te vervang wat glo deur skerpgemaakte spykers beskadig is. Die nooddiens berig dat onbekende verdagtes die egpaar van hul besittings beroof, die man geskiet en op die vlug geslaan het. First Care Emergency het die oproep om 22:44 ontvang en was om 23:03 op die toneel.