LIMPOPO. – Lucky Msizi Tshabangu (35), is tot agt jaar tronkstraf deur die Mokopane-streekhof gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die besit van gesteelde voertuie en roekelose en nalatige bestuur. Hy is gevang, deur die hof op borg vrygelaat en weer deur die polisie betrap in ‘n voertuig wat hy deur Beitbrug-grenspos land uit wou smokkel.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Malesela Ledwaba, is Tshabangu op 18 Mei 2025 in hegtenis geneem nadat hy in ’n gesteelde Toyota Corolla Cross, wat in Gauteng as gesteel aangemeld is, betrap is. Hy het vir die polisie probeer weg jaag en was glo op pad om die voertuig uit die land te smokkel. Hy is aanvanklik op borgtog vrygelaat, maar is weer in September 2025 by die Beitbrug-grenspos vasgetrek, hierdie keer in nog ’n gesteelde Toyota Corolla Cross. Ná dié tweede inhegtenisneming is sy borgtog teruggetrek en die sake is saamgevoeg vir verhoor in die streekhof.
Tshabangu is vyf jaar vir die ontvangs van ’n gesteelde voertuig, twee jaar vir roekelose en nalatige bestuur en ses jaar op nog ’n aanklag van die ontvangs van ’n gesteelde voertuig gevonnis. Die eerste twee vonnisse loop saam, wat neerkom op effektief agt jaar tronkstraf.





