
Foto verskaf: April 2024 na Amoré se tweede operasie
Toe Cindy Britz van Klippoortjie Park in Germiston geboorte aan Amoré (14) en Shadoné (12) gegee het, kon sy nie voorsien die lewe sou kanker oor hulle pad bring nie.
Shadoné was met akute limfoblastiese leukemie (bloedkanker) gediagnoseer en Amoré het pas haar derde breinoperasie vir kanker van die ependiem (ependymoma), stadium 3, ondergaan. Breingewasse, waarvan die laaste kwaadaardig, is verwyder.
Cindy, wat deurentyd sterk is, vertel hoe angs homself pens en pootjies in haar lewe kom tuismaak het. Haar stem raak met tye sag, soos wat sy die onthou in woorde omsit.
“Selfs om by ‘n apteek in te stap, veroorsaak angs. Elke keer as een van die kinders siek raak, huiwer vrees in my agterkop. As my dogters se diagnoses en die oorwinning daarvan slegs vir een persoon hoop kan gee, weet ek die vertel van hulle stories het ‘n doel gehad.”
Shadoné is in 2011 gebore en het ‘n normale lewe as baba en rabbedoe-kleuter gehad.
“Sy was twee toe sy begin siek raak het. Hoes en slym het ons oor ‘n tydperk van maande na ons huisdokter en Ongevalle vir mediese hulp laat gaan.”
Ongeveer vyf maande later hardloop Shadoné een dag met ‘n spelery in ‘n skuifdeur vas. Haar kop was geswel en die vel onder haar oë het blou verkleur. Twee maande daarna het Shadoné weer siek geraak, maar hierdie keer sê Cindy, was dit anders.
“Iewers na die derde doktersbesoek het ek haar uitgetrek om te bad en ek het haar baie bleek vel en bloukolle gesien. Ons almal weet tog kleuters kry bloukolle soos hulle speel, maar hierdie was net next level.”
Shadoné was lusteloos en het nie ‘n eetlus gehad nie. Cindy het die huisdokter gebel en oor ‘n vitamine-aanvulling gevra. Die dokter het aanbeveel Shadoné moes die volgende dag spreekkamer toe gaan.
“Op 6 Augustus 2014 is bloedtoetse op Shadoné gedoen en die volgende dag wou die dokter ons dringend sien.”
Die ouers moes geskok hoor Shadoné het leukemie.
“Ek was van my trollie af. Ek het gevra of my kind gaan doodgaan. Ek het dit geken as ‘n siekte wat ouer mense kry en dan gaan hulle dood. Ons was nie bewus daarvan dat kinders kanker kan kry nie.”
Die dokter het reeds met ‘n onkologie-eenheid reëlings getref. Die volgende dag is nog toetse by die eenheid gedoen, waarna Shadoné opgeneem is. Hierna het bloedplaatjieskenking, bloedoortappings, lumbale punksies en vele ander eerstes gevolg. Dit het gou ‘n nuwe “normale” leefstyl geword.
“Shadoné het nie soggens opgestaan en by ‘n skool gaan leer nie; sy moes leer van verskillende tipes medisyne, hoe om self medikasie deur ‘n chemopoort in te spuit, om tot drie te tel voor ‘n inspuiting of hoe ‘n vingerprik gedoen word.”
Cindy het in die tweede week gesien hoe kinders in die eenheid ophou loop en praat.
“Ek het vir die dokters gevra of die medisyne regtig werk. Ek het vir Shadoné gewag om soos die ander kinders te reageer. Die dokters het verduidelik hoe verskillende kinders verskillende medikasie in verskillende dosisse kry.”
“Na drie weke het ons gehoor die kankerselle is vernietig, maar drie jaar van chemoterapie het voorgelê. Die eerste ses maande na die diagnose was uiters intens. Dit was opstaan en hospitaal toe gaan. Ek het kinders sien doodgaan, mammas wat histeries is en hoe daar vir kinders se lewens geveg word. Die ander ontsteltenis was om te sien hoeveel van die gesinne deur egskeidings gaan.”
Cindy onthou in besonder die hansworse wat die pasiëntjies vermaak, mense wat met geskenke opdaag en bak saam met die kinders in die eenheid, om net vir ‘n rukkie hulle aandag te verskuif. Mettertyd het die afsprake stelselmatig verminder.
“Ek kan nie verduidelik deur hoeveel Panado’s ons is nie, steroïedetablette van oorsee af wat 11 op ‘n keer gedrink moes word en sekerlik meer as 300 chemoterapiepilletjies. Ek onthou hoe sy party aande die pilletjie sommer so in die slaap moes kou.”
Dit is ‘n dekade later en Shadoné is steeds in remissie, maar gaan nog elke jaar vir ‘n opvolgondersoek. Sy is ‘n leier by Laerskool Delville. Cindy beskryf haar as positief, met ‘n sterk persoonlikheid.
Shadoné hou nie van die reuk van Vicks nie. Dit herinner haar aan die tye in die hospitaal en medisyne wat in die chemopoort ingespuit word. Haar “gunstelingdeel” van siek wees was toe haar hare afgeskeer is. Haar pa het ter ondersteuning ook sy hare, wat hy lank gedra het, afgeskeer.
Ousus Amoré het eendag, onbewus van wat die toekoms vir haar inhou, vir haar ouma gevra of Shadoné ooit weer huis toe gaan kom.
Terwyl Shadoné se storie nou in die verskiet is, begin Amoré s’n in 2021 toe sy 11 jaar oud was en siek begin word het. Tydens menige besoek aan dokters en Ongevalle is die fout heeltyd by haar maag gesoek. ‘n Verandering aan haar eetpatroon is voorgestel en selfs haar roetine is vir meer rus aangepas.
“Amoré het kopseer gehad wat gedurende Maart en April vererger het. Sy het met tye by die skool op haar arms gelê en sonder waarskuwing spontaan begin opgooi. Omdat ek moes werk, het Ouma haar hospitaal toe geneem, waar sy opgeneem is. Allerhande toetse het geen antwoorde gebring nie. Op 15 Mei het sy histeries in die hospitaal van kopseer begin huil en is dadelik vir ‘n CT-skandering geneem.”
Amoré het ‘n 8 cm-gewas op haar regterkantste breinlob gehad.
“Ek was stomgeslaan. Tydens my jongste se behandeling moes ek sien wat kinders met breingewasse deurgaan. Ek het eerste aan al daardie kinders gedink. Tweedens het ek gedink hier gaan ons alweer met ‘n kind wat kanker het. Ek was baie emosioneel. Ek het weer drie jaar voor ons gesien. Maar ‘n operasie was die plan van behandeling.”
Twee dae voor die operasie het Cindy die neurochirurg gesien, wat haar uitgevra het en sy het ook vrae gehad. “Ek was bang, maar die neurochirurg het vir my gesê: “Just remember God works through my hands.” Dit is woorde wat my hoop gegee het en ek sal dit nooit vergeet nie.”
Drie dae later is die operasie gedoen.
Toe Amoré geopereer moes word, het Kleinsus sonder om te skroom weer haar hare ter ondersteuning van haar Ousus afgeskeer.
“Ek was voor die tyd by Amoré. Na narkose toegedien is, het ek omgedraai, weggestap en begin huil. Daar was skielik ‘n hand op my skouer en toe ek opkyk, was daar net lig voor my. Op daardie oomblik het ek geweet die Here is by haar en sy gaan oukei wees. Dit was ‘n man wat aan my gevat het, wat vir my gesê het: ‘She is in very good hands.’”
Die gewas is suksesvol verwyder. Toetsing het bevind dit was ‘n goedaardige gewas van die ependiem, stadium 2. Drie maande na die operasie het Amoré radiasie ontvang.
“Ek het gevra waarom sy ten spyte van ‘n suksesvolle operasie radiasie moes kry. Daar is verduidelik dit was vir die 0.2 % waarskynlikheid dat daar van die gewas agtergebly het. Ons het die storm deurleef. Amoré moes net elke jaar steeds ‘n MRI-skandering ondergaan.”
Vanjaar het Amoré weer siek geraak. Ma Cindy het ‘n eendagvirus vermoed. Die rede waarom die gewas op die agtergrond was, is omdat Amoré die vorige keer nie naar gevoel het nie, maar hierdie keer wel. Tablette het vir die hoofpyn gehelp, maar die hardnekkige naarheid het gebly.
“Ek het net gedink, nee man, dit kan nie wees nie. Twee dae later het ek haar Ongevalle toe gevat. Toe ek noem sy het ‘n gewas gehad, is ‘n CT-skandering dadelik gedoen. Dit het ‘n gewas gewys. Ek het daarteen geskop en ‘n MRI-skandering gevra. Dit het ook positief vir ‘n gewas teruggekom.”
“Daar moes ‘n tweede keer geopereer word. Amoré, wat vanjaar met hoërskool begin het, wou net die operasie agter die rug kry omdat die eerste keer nie vir haar so erg was nie. Sy wou net weer skool toe gaan en haar maats sien.”
In April is die tweede operasie gedoen en ‘n week en ‘n half later was Amoré terug by die huis. Twee weke daarna is ‘n opvolg-MRI-skandering gedoen.
“Die chirurg het met die afspraak daarna gesê ‘n deel van die gewas het agtergebly. Met wat uitgesny is, is ependymoma stadium 3 gediagnoseer. Hierdie keer was dit aggressief en dit is kanker. Amoré is na ‘n onkoloog in Johannesburg verwys.”
Weens werkverpligtinge het ons vir ‘n nader eenheid gevra, waarna Amoré by Netcare 911-Alberton-hospitaal moes aanmeld. Die onkoloog het gesê ‘n derde operasie moes gedoen word.
“Die onkoloog het reeds ‘n neurochirurg aan boord gehad wat positief was hy kon 90% van die gewas uitsny.”
Die derde operasie is op 9 Julie gedoen.
“Amoré is na vyf uur uit die teater en die dokter het bevestig hy het alles van die gewas wat hy kon sien, uitgesny. Maar daar was kommer oor haar linkerkant wat reeds voor die operasie swak was. Sy het die volgende dag wakker geword met haar linkerkant wat geaffekteer is. Maar soos die dokter sê, dit is steeds ‘early days’. Amoré kan reeds weer haar linkerbeen beweeg en so ‘n bietjie loop.”
Die volgende stap is nou rehabilitasie waaraan daar nie ‘n tyd gekoppel is nie en dan gaan Amoré binne ‘n paar weke weer met ses weke se radiasie, vyf dae ‘n week, begin.
“En dan na al die toetsing gedoen is en radiasie klaar is, sal ons uiteindelik uitvind of Amoré kankervry is.”
“Gebede en ondersteuning van ons almal se ouers het ons gedra. Ons kon die helse storm van drie operasies deurmaak. Ons bid nou vir remissie van die “monster.” Ons moedige dogter het steeds gebede nodig. Waar haar maats nou droom van matriekafskeid, droom sy slegs daarvan om gesond te bly.”
Cindy beveel aan ouers moet aandring op toetse wanneer hulle kinders siek bly, maar maan ook – alles is nie kanker nie. Sy is dankbaar vir dokters wat nie tyd verspeel het toe haar dogters siek geraak het nie.
“Ek weet nou wat anxiety is. Weet jy wanneer breek ek? In my motor waar ek alleen is, sodat ek steeds sterk kan wees vir my dogters. In hierdie tye het ons geleer wie regtig familie en vriende is. Dit is nie ‘n maklike pad nie en dit vat baie wilskrag om elke dag daar te wees en vir nou wag ons totdat Amoré soos Shadoné die klok van kankervry wees, kan lui.”
Nuusflits wens Amoré ‘n spoedige herstel en gunstige uitslae toe en sal lesers van haar vordering op hoogte hou.

Foto verskaf: Eerste dag van skool na Amoré se eerste operasie in 2021

Foto verskaf: Na Amoré se tweede operasie

Foto verskaf: Na Amoré se tweede operasie