GAUTENG. – Die man wat Saterdagaand ná die Springbokke se toetswedstryd op Loftus teen Skotland in ‘n oop gat op ‘n bouperseel geval en gesterf het, is as die 51-jarige Hugo van der Berg van Secunda in Mpumalanga geïdentifiseer. Hy het kort ná die rugbywedstryd in ‘n oop uitgrawing op die hoek van Lynnwoodweg en Roperstraat in Brooklyn, Pretoria, geval.
Volgens Willie Spies, VF Plus se burgemeesterskandidaat vir Tshwane, het Van der Berg die wedstryd saam met familie by Loftus Versfeld bygewoon. Spies sê Van der Berg se selfoon het vroeër die dag verdwyn en hy het daarna begin soek. Ná die wedstryd het Van der Berg saam met duisende ander toeskouers langs Lynnwoodweg beweeg toe hy in ‘n sowat vyf meter diep uitgrawing geval het. Hy het ernstige kopbeserings opgedoen en is ondanks pogings van omstanders en paramedici op die toneel dood verklaar.
Spies, wat ook ‘n regspraktisyn is, voer aan dat die uitgrawing nie voldoende beveilig was nie en sê hy sal aanspreeklikheid vir die voorval verseker. Hy het ook sy meegevoel met Van der Berg se familie, waaronder sy geliefdes, Yolanda en Melanie van der Berg, uitgespreek.
Die Old East Safety Forum het vroeër bevestig dat nog twee mense tydens die reddingspoging in dieselfde uitgrawing geval het, maar nie noodlottig beseer is nie. Volgens dié diens het die voorval omstreeks 20:20 plaasgevind toe groot getalle voetgangers die stadion verlaat het. Die middeljarige man het in die uitgrawing geval en sy kop teen bakstene onder in die gat gestamp, wat ernstige kopbeserings veroorsaak het. Omstanders, onder wie dokters, verpleegkundiges en opgeleide noodhulppersoneel wat nie aan diens was nie, het dadelik in die uitgrawing afgeklim om noodhulp te verleen en kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toe te pas. Gevorderde lewensondersteuningsparamedici het kort daarna oorgeneem, maar die man is ondanks hul pogings op die toneel dood verklaar.
Tydens die reddingspoging het nog twee mense in dieselfde uitgrawing beland. ‘n Bejaarde man het ingegly en teen ‘n blootgestelde dreinpyp tot stilstand gekom, terwyl ‘n jong man wat met die reddingswerk gehelp het, ook sy balans verloor en geval het. Die veiligheidsforum sê ‘n groot skare het rondom die uitgrawing saamgedrom, wat veroorsaak het dat dele van die rand ingegee het. Los grond het op reddingswerkers geval terwyl hulle die beseerde behandel het, wat die gevaar op die toneel verder verhoog het.
Volgens ‘n beoordeling van die toneel was daar wel veiligheidsheinings, waarskuwingstekens en veiligheidsnette in die omgewing, maar verskeie veiligheidsmaatreëls was glo onvoldoende. Veiligheidsnette het op plekke ingeval, versperrings was verskuif of los, straatbeligting was swak en die uitgrawing waar die voorval plaasgevind het, was nie voldoende afgesper vir die groot aantal voetgangers ná die wedstryd nie. Die Old East Safety Forum sê hulle het vooraf die operasionele en verkeersbestuursplanne vir die wedstryd bestudeer en opgemerk dat die sluiting van Lynnwoodweg en die padwerke nie daarin verreken is nie. Dié bekommernisse is voor die wedstryd informeel onder die aandag van die Tshwane-metropolisie gebring, maar geen aangepaste plan is volgens die forum ontvang nie.
Lede van die Old East Safety Forum was reeds in die gebied ontplooi as deel van ‘n gemeenskapsveiligheidsoperasie en kon saam met lede van die publiek, mediese personeel en nooddienste vinnig op die voorval reageer. Nooddienste, Netcare 911, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Tshwane-metropolisie (TMPD), Interactive Security en gemeenskapsrespondente van die Old East Safety Forum was onder die rolspelers wat op die toneel hulp verleen het.
Lindela Mashigo van die Stad Tshwane sê aan Nuusflits hy is bewus van die noodlottige voorval waarin ‘n man in ‘n uitgrawing binne die BRT-bougebied op Lynnwoodweg geval het en het sy innige meegevoel met die oorledene se familie uitgespreek. Volgens die metro vorm die uitgrawing deel van ‘n rioolpypleidingprojek en is die betrokke padgedeelte voor die aanvang van die werk vir voetgangers en voertuie gesluit. Die Stad sê kennisgewings oor die padsluitings en alternatiewe roetes is vooraf versprei en dat veiligheids- en verkeersbeheermaatreëls ingevolge die konstruksieplan ingestel is. Die metro voeg by dat die voorval tans ondersoek word en dat hy daarom nie verder kommentaar sal lewer nie.
Lees die Stad Tshwane se antwoord op die gebeure hier onder:
The City of Tshwane is aware of the tragic incident involving an individual who fell into an excavation within the BRT construction area on Lynnwood Road, near Laerskool Pretoria Oos.
The city is deeply saddened by the incident and extends its sincere condolences to the family, friends and loved ones of the deceased during this difficult time.
The excavation forms part of an ongoing sewer pipeline installation project associated with the BRT infrastructure development. To safeguard the public, the affected section of the road was formally closed to both pedestrian and vehicular traffic before construction commenced. The city deliberately scheduled the work during the current school holiday period to minimise disruption to road users and the surrounding school community.
In preparation for the project, notices were distributed to affected stakeholders and the public, advising them of the planned road closures, the construction activities and the alternative routes available. Appropriate traffic management and safety measures were implemented in accordance with the construction plan to restrict access to the work zone.
As the circumstances surrounding the incident are currently the subject of an investigation by the relevant authorities, it would be inappropriate for the city to speculate or comment further at this stage. The city remains committed to ensuring that all infrastructure projects are undertaken with due regard for public safety.
Regards,
Lindela Mashigo
Lees Spies se volledige plasing oor die voorval hier onder:
Die 51-jarige Hugo van der Berg van Secunda in Mpumalanga was Saterdag twee keer die slagoffer van die misdadige, roekelose bewind van die ANC en sy meelopers.
Hugo het, soos baie van ons, uitgesien na die wedstryd tussen die Bokke en Skotland. Hy was aangetrek in sy Springbokserp, Springboktrui en -pet en het Saterdagmiddag saam met sy familie en geliefdes uitgesien na die skouspel wat sou wag. Soos baie van ons het hy Saterdagmiddag gestaan om deur sy geliefdes afgeneem te word in sy Springbokuitrusting, voor die hekke van Loftus.
Soos ons almal in die stadion het hy waarskynlik die volkslied uit volle bors gesing. My vrou was in trane ná ons die volkslied gesing het. Toe ek vra hoekom, toe noem sy vir my hoe emosioneel dit vir haar is om 50 000 mense te hoor sing van hulle liefde vir ‘n land, maar dat daardie mense se liefde vir die land deur ‘n staat begroet word met vyandigheid en uitbuiting.
Hugo van der Berg se eerste verlies was toe sy selfoon verlore geraak het in die geroesemoes van mense. Sy familie vertel my dat hy in ‘n stadium deur die loop van die aand sy selfoon begin soek het. Sy selfoon is waarskynlik gesteel. Ek weet waarvan ek praat, want ek het die afgelope drie maande twee selfone van my en my kinders aan misdadigers afgestaan.
Misdadigers wat net hulle gang gaan. Hulle tree op met ‘n gemak wat slegs gekweek is in ‘n land met ‘n kultuur dat jy altyd sal wegkom met misdaad – want ons word regeer deur misdadigers – soos die Madlanga-kommissie nou en die Zondo-kommissie voor hom dag vir dag aan ons openbaar.
Toe Hugo na die wedstryd begin aanstryk saam met die stroom van toeskouers wat met Lynnwoodweg langs moes terugbeweeg na hulle voertuie, Ubers of blyplekke, het hy nie geweet dat sy tweede en grootste verlies nog vir hom wag nie.
Die Tshwane Metroraad het ‘n soveelste bedenklike tenderkontrak gesluit met ‘n kontrakteur wat die rioleringspype in Lynnwoodweg moes vervang. Die werk aan die honderde-miljoene-rand-kontrak is die afgelope paar jaar herhaaldelik onderbreek deur wanprestasie en onderprestasie van die kontrakteur. Die metro het – soos hulle altyd met hulle maatjies maak – miljoene vooruitbetaal aan die kontrakteur sonder dat die werk behoorlik bestuur word. Die blok van Lynnwoodweg tussen Roperstraat en Universiteitsweg is tans die toneel van een van die mees chaotiese, slordige konstruksiepersele wat ek in ‘n lang tyd gesien het.
Ons het streng reëls en wette op beroepsgesondheid. So ‘n perseel moet beveilig word en afgebaken word. Dit moenie toeganklik wees vir die publiek nie. Maar die kontrakteur het niks daarvan gedoen nie. Want dit kos mos geld om ‘n perseel te beveilig en dis geld wat besmoontlik eerder deur die kontrakteur op Moët Sjampanje, duur whiskey en duur motors verkwansel is.
Die roekelose bewind van Tshwane en hulle misdadige kontrakteurs het Saterdag die duisende ondersteuners van ons land laat loop deur die mynveld van gevaar wat hulle sélf op hulle tipies onbevoegde manier geskep het.
Die veiligheidskonsultant, Werner Beineke, wat op die toneel van Hugo van der Berg se tweede groot verlies was, vertel vir my dat Hugo die derde toeskouer was wat Saterdag in die vyf meter diepe uitgrawing geval het. Die een was gelukkig ongedeerd, die tweede het sy ribbes gebreek, maar Hugo is noodlottig beseer.
Terwyl ons nog fees gevier het oor die Bokke se wen, het Hugo sy tweede groot prys betaal aan die roekelose, bose bewind wat ons stad en ons land in sy greep van misdaad en korrupsie knel.
***
Dit was so halftien gisteraand dat ek met Hugo se skoonsuster inligting van die toneel af kon deel wat finaal aan hulle gewys het dat hulle hoop dat Hugo net vermis was, omskep is in die nare realiteit van finale verlies.
Hugo is oorlede. Hy het Saterdag twee keer die prys betaal.
Vir my is dit een keer te veel en een prys te hoog om te betaal!
Ek sal geregtigheid najaag en elke ding in my vermoë denkbaar doen om die mense te laat betaal vir die onreg wat hulle die geliefdes en familie van Hugo van der Berg aangedoen het. Die prys wat Hugo van der Berg betaal het, moet die saad raak vir die stryd om ons land te bevry van die rampokkers aan die stuur.
Mag ons Hemelse Vader Hugo se mense troos. Ek dink aan Yolanda en Melanie van der Berg en al die familie van Hugo wat vandag treur oor hierdie verlies. Ons troos bly dat ons nie aan onsself nie, maar aan Jesus Christus behoort.





