Brekende Nuus
Nuus

Name van meeste vroulike slagoffers in Ekurhuleni nou bekend

Foto: Nuusflits

GAUTENG. – Die name van sewe van die nege vroue wie se liggame die afgelope twee maande in Ekurhuleni en omliggende gebiede gevind is, is nou bekend, terwyl die polisie voortgaan met ondersoeke na die sterftes.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die liggame van Busisiwe Mahlangu is op 15 Julie, Itumeleng Kekana op 3 Augustus, Nomfesane Mjobo op 26 Augustus, Gracious Nkomo op 10 September en Elizabeth Moselakgomo op 12 September in Kempton Park gevind. Die liggaam van Dineo Motapane is op 15 September in Kwa-Thema gevind en die liggaam van Jabulile Ntimba op 17 September in Dawn Park. 

Die identiteit van ’n vrou wie se liggaam op 7 September in die Clayville-rivier by Olifantsfontein gevind is, is steeds onbekend. Die naam van nog ’n vrou, wat op 14 September in Olifantsfontein gevind is, word weerhou totdat haar familie ingelig is.

’n Multidissiplinêre span kundiges is gemobiliseer om met die ondersoeke te help. ’n Deurbraak is intussen in die Dawn Park-moordsaak gemaak, met drie verdagtes wat die naweek in hegtenis geneem is.