Brekende Nuus
Suid-Afrika

Namibiese hof bevestig bewaring van N$49,4 m. in onwettige mynbousaak

Foto: Ter illustrasie

MPUMALANGA. – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) verwelkom ’n uitspraak van die Namibiese hooggeregshof wat die bewaring van sowat N$49,4 miljoen (R49,4 miljoen) bevestig het. Die geld word verbind met ’n ondersoek na beweerde grootskaalse onwettige steenkoolmynbou, geldwassery en verwante misdrywe in Mpumalanga.

Monica Nyuswa, NVG-woordvoerder, sê die geld is verbind aan die Suid-Afrikaanse sakeman Jacobus Hosea Jordaan, sy vrou Elza Jordaan, Welgevonde Farming (Edms.) Bpk. en die Namka Trust. Die ondersoek hou verband met beweerde onwettige steenkoolmynbou tussen November 2021 en September 2023 in die Carolina-omgewing. Die NVG se bateverbeuringseenheid en die polisie se spesiale eenheid vir onwettige mynbou het in November 2023 ’n voorlopige bewaringsbevel oor grond, steenkoolvoorraad, swaar mynboutoerusting, voertuie en ander bates verkry. Verdere ondersoeke het volgens die NVG verdagte opbrengste na Namibië opgespoor. Sowat N$66,7 miljoen (R66,7 miljoen) is in Namibiese bankrekeninge wat aan die respondente gekoppel is, inbetaal, waarvan ongeveer N$49,4 miljoen (R49,4 miljoen) steeds bewaar word.

Die respondente het die bewaringsbevel betwis en aangevoer dat die geld uit wettige saketransaksies afkomstig is. Daar is egter deur die Namibiese hooggeregshof bevind redelike gronde bestaan om te glo die geld was opbrengste van onwettige aktiwiteite en dat die bankrekeninge met beweerde geldwassery verband hou. Die hof het die bewaringsbevel op 31 Augustus 2026 bevestig en die respondente gelas om die aansoeker se regskoste te betaal.