NK-amptenare besoek Wes-Kaapse regering

Lees ook :

NOORD-KAAP – LUR’s en staatsamptenare van die Noord-Kaap het die Wes-Kaapse regering besoek met die doel om die provinsie te bevorder.

Bronwyn Thomas-Abrahams, woordvoerder van die premierskantoor, sê die afvaardiging van dié provinsie wat die Wes-Kaap oor die naweek besoek het, is deur Zamani Saul, die premier, Mase Manopole, LUR van gesondheid, Maccollen Jack, LUR van onderwys, asook verskeie senior amptenare saamgestel.

Premier van die Wes-Kaap

Die afvaardiging is deur Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, ontvang. Die doel hiervan is om samewerking tussen die twee provinsies te bevorder. ’n Memorandum van verstandhouding tussen die pronivises gaan die doelwit formaliseer.

Die twee premiers het op die stigting van ‘n tegniese span besluit wat die raamwerk van die samewerking sal ontwerp.

Tygerberg-hospitaal

Nomafrench Mbombo, LUR van gesondheid in die Wes-Kaap, het die afvaardiging op ’n toer deur die Tygerberg-hospitaal in Belville geneem.

Thomas-Abrahams sê die doel van hierdie besoek was om die digitalisering van hul noodhulpdienste en pasiënte-liasseerstelsel te bestudeer. Dit om ‘n meer doeltreffende diens in die gesondheidsektor in die Noord-Kaap te lewer. 

Soortgelyke digitaliseringprogramme moet ook in die onderwys geïmplementeer word, “Dis om onderwys te verbeter vir ons kinders,” het Saul gesê.

Amerikaanse belange

Die afvaardiging het ook met Virginia Blaser, die Amerikaanse konsul-generaal en haar konsulaat in Kaapstad vergader, sê Thomas-Abrahams.

Die doel hiervan was om Amerikaanse belange in die Noord-Kaap en die moontlikheid van ’n samewerking van onderwys, gesondheid, uitruilprogramme, digitalisering van biblioteke en ekonomiese ontwikkeling te bespreek.

Die afvaardiging het saamgestem daar is verskillende geleenthede wat verdere betrokkenheid regverdig. 

Saul het homself daartoe verbind om op die verhouding voort te bou en dit te ontwikkel.

Hy het die Amerikaanse konsul en haar span genooi na die bekendstelling van die provinsiale groei- en ontwikkelingstrategie en beleggingsboekie.

Samewerking tussen die provinsies

Thomas-Abrahams sê Saul het Winde en sy span bedank vir die produktiewe dag wat hy saam met die Wes-Kaapse regering deurgebring het. Voorts is daar meer op die kaarte, want die twee provinsies kan deur samewerking nog baie by mekaar leer, sê sy.

“As ‘n provinsie stel ons belang in verskeie dienste om ons provinsie te moderniseer en die ekonomie te laat groei. Om hierdie rede sal ons vennootskappe met alle sektore soek om planne in werking te stel wat die lewens van die inwoners van die provinsie sal verbeter,” het Saul gesê.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief