Discord lyk op die oog af soos ’n plek waar kinders en tieners oor rekenaarspeletjies, musiek en ander belangstellings gesels. Die platform kan egter ook geleenthede skep vir mense wat kinders doelbewus aanlyn teiken.
Discord kombineer teksboodskappe, stem- en video-oproepe met aanlyn gemeenskappe wat “servers” genoem word. ’n Kind kan byvoorbeeld by ’n server aansluit wat aan ’n spesifieke speletjie, sportsoort of ander belangstelling gewy is.
Binne hierdie gemeenskappe kan mense mekaar leer ken sonder dat hulle noodwendig weet wie werklik agter ’n profiel sit.
Volgens Discord kan gebruikers met ander mense deur teks, stem en video kommunikeer. Afhangend van ’n gebruiker se instellings kan mense wat dieselfde server gebruik ook direkte boodskappe stuur.
Dit begin nie noodwendig seksueel nie
Een van die grootste gevare met aanlyn grooming is dat die gesprek aanvanklik heeltemal onskuldig kan lyk.
Iemand kan voorgee om dieselfde speletjie te speel, van dieselfde musiek te hou of dieselfde probleme by die huis of skool te ervaar.
Die persoon kan al hoe meer aandag aan die kind gee, na sy of haar probleme luister, komplimente gee en die kind laat voel dat hulle ’n besonderse vriendskap gevorm het.
Volgens die kinderbeskermingsorganisasie Thorn behels aanlyn grooming dikwels die misbruik van vertroue om ’n kind se grense geleidelik te verskuif. Die proses kan oor weke of maande plaasvind, maar kan in sommige gevalle binne ure eskaleer.
’n Tipiese patroon kan wees:
- Kontak begin in ’n openbare groep of server.
- Die persoon bou ’n vriendskap met die kind.
- Die gesprek skuif na direkte of private boodskappe.
- Al hoe meer persoonlike vrae word gevra.
- Seksuele grappies of gesprekke word stadig ingebring.
- Die kind word aangemoedig om dinge geheim te hou.
- Foto’s of video’s word versoek.
- Dreigemente of afpersing kan volg indien die kind reeds intieme materiaal gestuur het.
Thorn se internasionale navorsing het bevind dat sowat 65% van minderjariges wat ondervra is al beleef het dat iemand wat hulle net aanlyn ken, probeer het om ’n gesprek van ’n openbare ruimte na ’n private gesprek op ’n ander platform te skuif.
’n Profiel bewys nie wie iemand is nie
’n Kind kan glo hy of sy praat met ’n 14- of 15-jarige, maar ’n gebruikersnaam, profielfoto en ouderdom in ’n biografie bewys nie wie werklik agter die rekening sit nie.
Dit is juis waarom ouers nie net vir openlik seksuele boodskappe moet uitkyk nie. ’n Verhouding wat gevaarlik word, kan aanvanklik soos ’n gewone, hegte aanlyn vriendskap lyk.
Waarskuwingstekens kan insluit dat ’n kind skielik baie geheimsinnig raak oor ’n spesifieke aanlyn vriend, gereeld privaat oproepe ontvang, kontak met iemand probeer wegsteek of ontsteld raak wanneer toegang tot die platform beperk word.
Discord gee ouers meer beheer
Discord het intussen verskeie veiligheidsfunksies vir tieners ingestel.
Die platform se Family Center laat ’n ouer of voog toe om sy of haar rekening aan ’n tiener se rekening te koppel.
Volgens Discord kan ’n ouer wat aan die kind se rekening gekoppel is, onder meer sien met watter gebruikers die tiener onlangs gekommunikeer het, watter nuwe vriende bygevoeg is en by watter servers die tiener aangesluit het. Ouers kan ook sekere veiligheids- en privaatheidsinstellings bestuur.
Ouers kan egter nie die inhoud van hul tiener se boodskappe deur Family Center lees nie.
Discord sê boodskappe van mense wat nie reeds ’n tiener se vriend is nie, kan ook na ’n aparte “Message Requests”-afdeling gestuur word. Veiligheidswaarskuwings vir tieners kan verskyn wanneer ’n nuwe persoon vir die eerste keer ’n direkte boodskap stuur.
Discord is nie op sigself ’n platform vir misdadigers nie en miljoene mense gebruik dit bloot om met vriende en gemeenskappe te kommunikeer.
Die belangrike vraag vir ouers is eerder: Met wie praat jou kind wanneer jy nie kan sien wie aan die ander kant van die skerm sit nie?





