GAUTENG. – Altesaam agt seuns wat glo by ‘n voorval betrokke was waartydens ‘n gr. 9-leerling Donderdag op die skoolterrein van Hoërskool Boksburg, in Ekurhuleni, met ‘n skerp voorwerp gesteek is, is in aanhouding.
Steve Mabona, GDO-woordvoerder, sê in ‘n verklaring volgens inligting het die groep seuns glo oor die skool se draad gespring en die slagoffer gesteek. Hulle is intussen in hegtenis geneem en word by die Boksburg-polisiekantoor aangehou. Die beseerde leerling ontvang mediese behandeling. Die onderwysdepartment het sy kommer ná die steekvoorval uitgespreek en ‘n psigososiale ondersteuningspan na die skool gestuur om traumaberading en bystand aan die slagoffer, klasmaats en onderwysers te verleen.
Volgens die departement werk hulle saam met die polisie om te verseker dat geregtigheid geskied en dat veiligheidsmaatreëls by die skool hersien en versterk word. Matome Chiloane, die LUR vir onderwys in Gauteng, het die voorval veroordeel en gesê die departement het ’n benadering van geen-verdraagsaamheid teenoor geweld by skole.
“Ons wens die beseerde leerder volle herstel toe en doen ’n beroep op gemeenskappe om ’n aktiewe rol te speel om sulke voorvalle te voorkom en te verseker dat ons skole veilige ruimtes vir onderrig en leer bly. Ons waardeer ook die vinnige optrede van wetstoepassingsagentskappe teen hierdie misdaad,” het Chiloane gesê.
Kapt. Tintswalo Sibeko, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits ‘n ondersoek is aan die gang en geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie.






