GAUTENG. – Drie verdagtes is Vrydag deur die polisie in St. Andrewsstraat in Parktown doodgeskiet. Die verdagtes is aan ontvoerings en rooftogte verbind.
Kapt. Tintswalo Sibeko, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die voorval ‘n aktiewe misdaadtoneel is. Gen.maj. Kekana is tans op die toneel. Die polisie het inligting ontvang oor ‘n ontvoering en poging tot ontvoering in Langlaagte en Randburg. ‘n Misdaadtelligensie-operasie is geloods. Die polisie het die verdagtes se voertuig opgespoor en probeer om dit tot stilstand te dwing. Dit het tot die skietery gelei waartydens die verdagtes dood is. Twee ongeregistreerde vuurwapens is op die toneel gevind. Sibeko sê die operasie is gesamentlik deur die polisie-hoofkantoor, taktiese reaksie-eenheid, teen-bende-eenheid, provinsiale verkeerspolisie-lugvleuel, die Valke en veiligheidspersoneel geloods.
‘n Saak van moord en poging tot moord word ondersoek.
