WES-KAAP. – Die nasionale seereddingsinstituut (NSRI) sal Maandag sy vlag in Milnerton, Kaapstad, tot halfmas laat sak as ’n teken van respek en hulde ter nagedagtenis aan die Australiese reddingsvrywilligers Bill Ewen (78) en Frank Petsch (62) van Marine Rescue NSW, wat op 4 Mei 2026 hul lewens verloor het tydens ’n gevaarlike reddingsoperasie in Nieu-Suid-Wallis.
Kylie Hatton, NSRI-woordvoerder, sê die oorledenes was deel van ’n span wat op ’n noodoproep van ’n seiljag in nood gereageer het, toe hul vaartuig in swaar see naby die South Ballina-brekerwal omgeslaan het. Vier van hul kollegas het die voorval oorleef.
Die huldeblyk sal op dieselfde dag as Bill Ewen se begrafnis plaasvind. Verskeie NSRI-stasies regoor Suid-Afrika sal ook as deel van die internasionale eerbetoon hul vlae halfmas laat hang. Die stap volg op ’n versoek van die International Maritime Rescue Federation (IMRF), wat reddingsorganisasies wêreldwyd gevra het om die twee mans se lewens te herdenk. Die IMRF verteenwoordig meer as 130 maritieme soek-en-reddingsorganisasies, insluitend die NSRI.
Mike Vonk, die NSRI se hoof- uitvoerende beampte, het gesê die dood van Ewen en Petsch is ’n groot verlies vir hul families, hul kollegas en die wêreldwye reddingsgemeenskap. Hy het beklemtoon dat hulle hul lewens gewy het aan die redding van ander in nood. Volgens Vonk is die huldeblyk nie net vir die twee mans nie, maar ook ’n erkenning van alle reddingsvrywilligers wat hul tyd en veiligheid opoffer om ander te help. Hy het waardering uitgespreek vir alle vrywilligers en hul families wat hierdie belangrike werk ondersteun.





