Nuusflits bedryf vanaf vandag nóg ‘n Facebookblad, wat voorheen onder die vaandel van AfriNUUS bestaan het.
Jeanne-Marie van Eeden, eienaar van AfriNUUS en suster van wyle Hein Boshoff, die stigter en redakteur van AfriNUUS, sê sy wil hê haar broer se nalatenskap moet voortleef. Boshoff is op 23 Junie 2023 oorlede.
“Hein was ’n nuus-mens deur en deur. Hy het gelewe vir laatnagte werk, het altyd ’n sperdatum gejaag en AfriNUUS was sy baba van die begin af. Ek wil graag hê dit wat hy opgebou het, moet voortleef deur steeds Afrikaanse lesers te bedien. Nuusflits het voorheen saam met Hein gewerk en hulle het dieselfde doel voor oë. Ek wil hê dit moet net van krag tot krag groei en ek weet Nuusflits sal die sukses voortdra.”
Jana Engelbrecht, besturende direkteur van Think Media en redakteur van Nuusflits, sê die besluit is strategies deur Think Media geneem. Think Media is die moedermaatskappy van Nuusflits. “Ons doel is om goeie kwaliteitnuus in kort brokkies aan al hoe meer Afrikaanse lesers te bied. “Nuusflits het nou 430 000 volgelinge op Facebook en hiermee kom meer verantwoordelikheid. Ons het ’n volledige span verslaggewers wat daagliks – en soms nagteliks! – skryf om jou op hoogte te hou van nuus.”
Engelbrecht sê Boshoff het ’n groot leemte gelaat. “Hein was ’n verslaggewer soos min. Hy het ons op ons tone gehou en kon verskriklik vinnig werk. Hy was ook ‘n goeie vriend en vertroueling, wat baie gehelp het as ons moeilike artikels aangepak het. Ons sal lesers aanhou op hoogte hou en glo nuus behoort aan almal – gratis. Ons staan vir Afrikaans. Dis ons taal en ook jou taal. Jy moet nuus kan lees soos dit jou pas – hetsy op jou slimfoon, ons toep, Nuusflits, Instagram, Facebook, Twitter, TikTok, WhatsApp, Telegram.”
Die samesmelting van dié twee nuusblaaie se reikwydte beloof baie groei vir die toekoms en Nuusflits nooi lesers uit om deel te wees van die proses. “Deel ons nuus, vertel jou vriende en familie van ons toep, bly op hoogte en laat hoor van jou!”
Vir enige navrae, kontak [email protected] of besoek www.nuusflits.com.