Anthonie Bougas lyk glo heel anders en sy kenmerkende blonde kuif het na bewering plek gemaak vir ’n donkerder kapsel. Bougas, voormalige kindersanger en eienaar van KleuterZone, se maatskappy is verlede jaar gelikwideer.
Volgens Anthony Boucher, ’n spesialis-ondersoeker verbonde aan Specialised Security Services (SSS) onder leiding van Mike Bolhuis, het Bougas moontlik sy voorkoms verander en dra hy glo nou ook ’n tatoeëermerk op sy voorarm. Die foto van Bougas, wat volgens SSS by ’n lughawe in Dubai geneem is, is deur SSS aan Nuusflits verskaf.
KleuterZone, die maatskappy waarvan Bougas ’n direkteur was, is in 2025 gelikwideer na klagtes van beleggers oor beweerde onbetaalde opbrengste van bykans R500 miljoen se beleggings. Luidens berigte in Moneyweb het die Valke vroeër bevestig dat sake wat met die maatskappy verband hou, ondersoek word.
Boucher sê Bravin Bonthuys, ‘n voormalige medewerker van Bougas, het glo op of rondom 6 April 2026 vanaf Suid-Afrika na Dubai Internasionale Lughawe gereis, waar hy Bougas in die Marhaba Lounge B-lughawesitkamer, ontmoet het. Die bewering is dat die twee van daar na Thailand, waar Bougas hom glo bevind, gereis het.

“Anthonie en Bonthuys sit oorkant die tafel van mekaar, maar praat met mekaar op WhatsApp. Hulle kommunikeer nie sommer verbaal direk nie.”
Volgens Boucher dui opnames, in SSS se besit is, op verdere aktiwiteite. Lees meer oor die beweringe wat SSS maak hier, asook ‘n stemnota wat opgeneem is tussen Bougas en sy ma, waar hy haar vra of sy permanent Thailand toe gaan kom.
Nuusflits het vrae aan Bougas en sy ma, Rensche Bougas, gestuur om hulle die geleentheid te gee om kommentaar te lewer. Bougas se telefoonnommer werk nie en geen terugvoer is teen publikasietyd ontvang nie.
Die beelde is verskaf deur Specialised Security Services en is volgens SSS ’n onlangse voorstelling van Anthonie Bougas.
Lees die volledige persverklaring van SSS en luister na die stemnotas hier.





