JV-leerling tydens padwoedevoorval glo deur taxibestuurder in rug geskiet

Lees ook :

Foto: BackaBuddy

GAUTENG. – Dian Marais (18), leerling by HTS John Vorster, is op 30 Maart deur ‘n taxibestuurder, wat glo in Fred Nicholsonstraat in die Moot in spitsverkeer probeer indruk het, in die rug geskiet. Vyf skote is tydens die voorval geskiet, waarvan een vir Dian getref het. HTS John Vorster het intussen hulp gevra vir die JV-leerling wat besig is om te herstel.

Beatrix Marais, Dian se ma, sê sy lewe het drasties verander terwyl hy saam met sy broer huis toe gery het. Nadat Dian nie in die verkeer wou plek gee aan die taxi nie, is hy glo deur die aggressiewe bestuurder gekonfronteer. Dié taxibestuurder het na bewering tydens die padwoedevoorval probeer om hul voertuig vas te keer, het toe uitgeklim en teen die motor begin slaan. Dian se broer het opgemerk dat die man na ’n vuurwapen gryp en vir sy broer gesê om weg te ry.

Terwyl die broers probeer wegry het, het die taxibestuurder glo op hulle geskiet, waartydens een koeël deur die kattebak gegaan en vir Dian getref het. Die koeël het skade aan sy ruggraat veroorsaak. Met behulp van dr. Thobejane en sy span by die Zuid-Afrikaanse-hospitaal is die koeël suksesvol uit Dian se rug gehaal. Die koeël is as bewysstuk aan die polisie oorhandig.

Beatrix verduidelik dat alhoewel haar seun oorleef het, is daar ‘n lang herstelproses wat voorlê. Ten spyte van alles bly Dian volgens sy ma sterk en hoopvol oor sy herstel. Sy het voorts dankie gesê vir al die hulp en ondersteuning wat Dian ontvang.

Zelda Engelbrecht Potgieter het op die skool se plasing gesê: “Die seun is so ongelooflik talentvol gewees op die atletiekveld en ek het dit so geniet om te sien hoe gemaklik hy die rondtes kaf gedraf het. En nou, ons bly in ‘n gebroke wêreld waar niemand gevrywaar is om geraak te word deur die ongeregtigheid, die seer en die arrogante keuses van ander. Maar een ding wil ek net nou vir hierdie mamma-hart sê, Dian is deur God geskape. Sy plan vir Dian is perfek en weet net God slaap of sluimer nie. Hy ken julle vrees, julle seer, julle onsekerheid en Hy is met julle, want in Sy Woord sê dit “He is close to the brokenhearted ” Sy Hand is oor Dian en Sy hart is gebreek ook vir julle wat nou deur so groot skok moet gaan. Mag God julle styf toevou in Sy arms van liefde en troos en Hy julle ‘n bonatuurlike vrede gee dat Sy perfekte plan vir Dian volbring sal word.  Ons dien ‘n God van wonderwerke en ons glo en vertrou in volkome genesing en oorvloedige seën oor Dian se lewe.”

Nuusflits het polisiekommentaar gevra.

Bronne: HTS John Vorster, Caxton Network News en BackaBuddy

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief