WES-KAAP. – ‘n Internasionale navorsingspan onder leiding van die Universiteit Stellenbosch (US) gaan nuwe toetse ontwikkel wat kan help om tuberkulose meningitis (TBM) by kinders vroeër op te spoor.
Martin Viljoen, universiteitswoordvoerder, sê die projek, PRECISE-TBM, het in Mei vanjaar begin en sal oor vier jaar strek. Dit word met sowat R40 miljoen deur Global Health EDCTP3 befonds en betrek navorsers uit Suid-Afrika, Frankryk, Duitsland, Zambië en Zimbabwe.
TBM is die ernstigste vorm van tuberkulose by kinders en kan dodelik wees indien dit nie betyds gediagnoseer en behandel word nie. Omdat die simptome maklik met ander siektes verwar kan word en huidige toetse ingewikkeld is, word die siekte dikwels eers laat bevestig. Dit verhoog die risiko van sterftes en permanente breinskade. Die navorsingspan wil versorgingspunttoetse ontwikkel wat vinniger resultate kan lewer en maklik in klinieke en hospitale met beperkte hulpbronne gebruik kan word. Benewens bestaande toetse wat serebrospinale vloeistof gebruik, word daar ook aan ‘n nuwe bloedtoets gewerk wat die diagnose eenvoudiger en meer toeganklik kan maak.
Prof. Novel Chegou, die projekkoördineerder van US, sê baie kinders besoek verskeie gesondheidsorgfasiliteite voordat die siekte uiteindelik gediagnoseer word. Volgens hom kan vinniger toetse help om behandeling vroeër te begin en sodoende meer kinders se lewens te red. Die nuwe toetse sal tydens die projek in Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe geëvalueer word om vas te stel hoe doeltreffend dit in die praktyk werk.





