Die departement van binnelandse sake het ’n nuwe visumstelsel, MEETS, bekend gestel om dit makliker te maak vir groot groepe internasionale besoekers om die land vir geleenthede binne te kom.
Carli van Wyk, woordvoerder vir die minister van binnelandse sake, dr. Leon Schreiber, sê die skema is daarop gemik om visumaansoeke vir groot internasionale byeenkomste vinniger en doeltreffender te hanteer. Die stelsel fokus veral op tydsensitiewe groepsaansoeke wat verband hou met konferensies, sportbyeenkomste en vermaakgeleenthede. Die nuwe MEETS-stelsel bied ’n meer gestruktureerde en digitale proses wat help om rompslomp te verminder en verwerkingstye te versnel wanneer groot getalle mense terselfdertyd moet reis.
Plaaslike organiseerders met ’n bewese rekord kan aansoek doen om deel van die skema te word. Indien hulle goedgekeur word, sal hulle formele ooreenkomste met die departement sluit om hul deelname te reguleer.
Die departement meen die stelsel sal Suid-Afrika help om meer internasionale geleenthede te lok, wat op sy beurt toerisme, beleggings en werksgeleenthede kan bevorder.
Druk hier om meer te lees.






