Pres. Cyril Ramaphosa het die nuwe Wet op die Staatsdienskommissie onderteken wat die liggaam se rol in die monitering van die openbare diens versterk.
Volgens die Suid-Afrikaanse regering vervang die nuwe wet die Wet op die Staatsdienskommissie van 1997.
Die Staatsdienskommissie is ’n onafhanklike grondwetlike liggaam wat onder meer administratiewe praktyke en probleme met dienslewering kan ondersoek.
Dit gee die Kommissie ook die mag om van ’n betrokke uitvoerende gesag of ander persoon te vereis om verslag te doen oor vordering met die uitvoering van sy besluite.
Enigiemand wat die Kommissie verhinder om sy werk te doen, kan skuldig bevind word aan ’n misdryf en ’n boete van tot R50 000, tronkstraf van tot 12 maande, of albei opgelê word.