Brekende Nuus
Nuus

Fransie se organe gee reeds 4 kinders ’n kans op lewe

Foto: Jeanine V Der Berg

GAUTENG. – Fransie van den Bergh van Springs se orgaanskenking het volgens sy ma aan twee babas en twee kinders ’n kans op lewe gegee. Die graad 7-leerling van Laerskool Christiaan Beyers is op 4 November oorlede nadat hy met ’n ernstige sinusinfeksie in die hospitaal opgeneem is. Aanvanklike toetse het op breinvliesontsteking gedui. Fransie se gedenkdiens vind Donderdag om 10:00 by die AGS Lofoord Kerk in Springs plaas.

Jeanine van den Bergh, Fransie se ma, het op die Bid vir Frans-Facebook-blad gedeel dat al vier ontvangers herstel. Een van die kinders het volgens haar reeds nie meer die masjien waarop hy aangewese was, nodig nie. Sy sê Fransie se lewer en niere is gebruik. Sy hart en longe kon volgens haar weens ’n uitstaande nadoodse ondersoek nie vir oorplanting gebruik word nie. “Ons het vir ’n wonderwerk gebid. En God het wel ’n wonderwerk gedoen,” skryf Jeanine. Sy sê sy verlang na haar seun en put troos uit die wete dat sy orgaanskenking vier ander gesinne nuwe hoop gegee het.

Fransie is in die Glenwood-hospitaal in Benoni behandel nadat sy toestand ná ’n sinusinfeksie versleg het. Sy familie het deur sy siekte heen nuus op Bid vir Frans gedeel. Sy skool het hom in ’n huldeblyk onthou vir sy besondere liefde vir rugby.

Volgens die familie sal Fransie veras word. Daar sal geen grafseremonie ná die diens wees nie.

Lees die plasing hier onder:

GOD HET WEL ’N WONDERWERK GEDOEN!

Ons het gesmeek vir ’n wonderwerk. Ons het gebid, gehuil en by God gepleit vir ons Fransie se lewe.

Vandag het ek ’n oproep ontvang wat iets ongeloofliks aan ons bevestig het. Fransie se organe het reeds aan vier ander kinders ’n kans op lewe gegee. Twee babas en twee kinders is besig om te herstel. Een van hierdie kinders is vandag van die masjien afgehaal omdat hy dit nie meer nodig het nie. ❤️ Fransie se lewer en niere is gebruik. Sy hart en longe kon ongelukkig nie gebruik word nie, omdat ’n nadoodse ondersoek nog gedoen moes word.

En toe tref dit my vandag… Ons het vir ’n wonderwerk gebid. En God het wel ’n wonderwerk gedoen. Vier kinders kry nou ’n kans op lewe. Vier mammas wat ook gebid en gesmeek het, het vandag nuwe hoop. En God het my kosbare Fransie gebruik om dit moontlik te maak.

As mamma sou ek enigiets gee om my seuntjie weer in my arms te hou. Ek verlang na hom met elke stukkie van my hart. Maar vandag besef ek iets wat ek nooit sal vergeet nie: Net omdat die wonderwerk waarvoor ék gebid het, anders lyk as die wonderwerke waarvoor God my kind gebruik het, beteken dit nie dat God nie ’n wonderwerk gedoen het nie. My Fransie se aardse lewe het geëindig, maar deur hom het vier ander kinders ’n kans op lewe gekry.

My dapper Fransie, Mamma se held. Selfs ná jou laaste asem het jy steeds ’n verskil in hierdie wêreld gemaak. 💙 Ek sal jou vir altyd liefhê, my kind.

Aan God al die eer. 🙏❤️