Bevindinge oor gesigsherkenningstegnologie in berig.
WES-KAAP. – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het aangekondig dat hulle vyf lewenslange vonnisse en 76 jaar direkte gevangenisstraf vir Ayanda Dayi versoek wat skuldig bevind is aan ’n reeks ernstige geweldsmisdade wat die land geskok het. Gesigsherkenningstegnologie het Dayi aan misdade gekoppel.
Volgens Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, is Dayi skuldig bevind aan vier aanklagte van moord, een van poging tot moord, twee van roof met verswarende omstandighede, een van diefstal, drie van die onwettige besit van vuurwapens en drie van die onwettige besit van ammunisie. Die misdade sluit in: 24 Januarie 2024 – Du Noon – moord op Eric Yaphi en Elvis Thembelani Cwethiso in Usasazastraat. Dayi en ’n medebeskuldigde het die slagoffers geskiet en Cwethiso se voertuig gesteel.
31 Januarie 2024 – Delft – die gesteelde voertuig is by die Gushindoda- informele nedersetting gevind met Dayi en sy stiefseun daarin. ’n Vuurwapen is op die passasiersitplek gevind en sy vingerafdrukke was op die voertuig.
16 Mei 2024 – Symphonyweg, Delft – aanval op drie mans in ’n Sasko-broodvragmotor – Dayi het ’n vuurwapen op hulle gerig en saam met ’n medebeskuldigde skote geskiet, asook geld en ’n selfoon gesteel. Een van die mans is ernstig beseer, maar het oorleef.
Dayi het ook ’n geskiedenis van ernstige misdade, insluitend roof in 2002, verkragting in 2007, asook onwettige dwelmbesit. Hy het geen berou getoon nie en sy gedrag dui op ’n patroon van berekende en herhaalde geweld.
Die NVG sê die saak is deeglik deur Esna Erasmus, die senior staatsaanklaer, en die ondersoekbeampte, lt.kol. Pretorius, wat gesigsherkenningstegnologie gebruik het opgebou, om Dayi aan die misdade te koppel. Die Wynberg-landdroshof sal Dayi op 24 Februarie vonnis.









