Die NWU Skolesportreeks landloop-kompetisie het hierdie jaar weer vir groot opwinding en drama gesorg. Hoërskool Waterkloof het hierdie jaar ‘n besonderse goeie kans gestaan (met twee SA-kampioene) om die kompetisie onder Menlopark se neuse weg te raap. Ongelukkig het hulle ‘n skamele twee punte kortgekom.
Twaalf skole uit 4 provinsies
Die 12 skole uit vier provinsies het weer by Lekwena Wildlife Estate buite Potchefstroom uitgedraf. Die deelnemende skole was: Hoërskool Menlopark, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Kemptonpark. Hoërskool Transvalia, Hoërskool Middelburg, HTS Middelburg, Hoërskool Ben Vorster, Dr. E.G. Jansen, Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Piet Retief. Ongelukkig het atlete van Dr. E.G. Jansen uit die landloopbeen van die kompetisie onttrek.
Oor die twee dae van 21 en 22 April het verskeie uitdagings op die atlete gewag. Junior dogters, Junior seuns, Senior dogers asook die Senior seuns neem in aparte wedlope deel. Die landloopkompetisie bestaan uit twee bene. Op die eerste dag word daar twee keer die 2 km roetev(4 km) afgelê deur elke spanlid in sy/haar ouderdomskategorie. Die tweede dag word opsygesit vir die 1.7 km aflos waar elke spanlid in die ouderdomskategorie die 1.7 km-roete moet aflê.
Gure weer maak amok op Dag 1
Dinsdag 21 April se wedlope het ‘n ander dimensie aangeneem toe gietende reën die middag begin uitsak het en ‘n stormwind opgesteek het. ‘n Reeds uitdagende roete het op plekke in mini stroompies en seepgladde oppervlaktes ontaard. Dit het verseker dat taktiese uitdagings eerder as spoed die uitslae die meeste beïnvloed het. Verskeie atlete het meer as een keer gegly en geval. Gelukkig is geen ernstige beserings aangemeld nie.
Dag 1 uitslae
Die top drie-uitslae op Dag 1 was as volg:
Junior dogters:
- Hoërskool Waterkloof
- Hoërskool Menlopark
- Hoërskool Kemptonpark
Junior seuns:
- Hoërskool Menlopark
- Hoërskool Waterkloof
- HTS Middelburg
Senior Dogters
- Hoërskool Waterkloof
- Hoërskool Menlopark
- Hoërskool Nelspruit
Senior Seuns
- Hoërskool Kemptonpark
- Hoërskool Menlopark
- Hoërskool Waterkloof
Aflos-uitslae
Die weer op Dag 2 was aansienlik anders. Koel weer ná die reën het vir ideale hardlooptoestande gesorg. Die modder en gladde oppervlaktes was egter steeds ‘n faktor in hierdie spoedafdeling van die kompetisie.
Die top 3-plekke van die aflosse van die Junior dogters, Junior seuns en Senior dogters het dieselfde posisies opgelewer as die vorige dag se 4 km-wedlope. In die Senior seuns aflos-afdeling het Waterkloof egter die bal laat val waar hul span hul derde plek aan Hoërkool Nelspruit afgestaan het om vierde te eindig.
Waterkloof kom kort
Die finale uitslae vir die kompetisie is angstig afgewag. Dit was al op die eerste dag duidelik dat dit ‘n naby stryd vir die kroon tussen Klofies en Menlo gaan wees. Aan die einde van die twee dae het Menlo egter weer met die kroon weggestap met ‘n skrale twee punt-oorwinning teen hul buurskool. Hoërskool Kemptonpark het die welverdiende bronsmedalje ingepalm.







Leon Stoltz (G), Michael Bekker (S), Rumarko Groenewald (B)

Fotos deur Lulu’s Sport Pics





