Die familie van die Oekraïense soldaat, Nazar Daletskyi, was oortuig dat hy in gevegte gesneuwel het. In 2023 is sy liggaam in ’n dorpsbegraafplaas in Wes-Oekraïne ter ruste gelê nadat owerhede bevestig het dat ’n liggaam deur DNS-identifikasie aan hom verbind is.
Maar dié week het die ondenkbare gebeur: Nazar het sy ma gebel – verswak en uitgeput, maar lewend. Hy is vrygelaat uit Russiese gevangenskap as deel van die jongste uitruiling van krygsgevangenes.
“My emosies was so intens,” het sy ma, Nataliya, aan die BBC gesê, steeds geskok deur die nuus. Die vreugde van die familie tydens daardie eerste oproep, wat op video vasgelê is, is oorweldigend. Nataliya vra haar seun angstig of hy ongedeerd is. “Het jy jou arms, jou bene, alles?” wil sy weet. “My goue kind, ek het so lank vir jou gewag.”
“Dit was so vreemd, want my seun was dood, ek het hom begrawe, maar hier hoor ek sy stem. Kan jy jou die emosies van ’n ma voorstel? Geluk. Groot geluk. Ek kon my trane nie terughou nie,” het Nataliya gesê.
Nazar se terugkeer uit ‘n oorloggeteisterde land word as buitengewoon beskryf. Nazar, toe 42 jaar oud, is na die front toe die oorlog tussen Oekraïne en Rusland in 2022 uitgebreek het. In Mei daardie jaar het hy spoorloos verdwyn. Kort daarna het sy ma ’n oproep van ‘n Russies-sprekende man ontvang wat gesê het haar seun is gevange geneem.
’n Jaar later is Nataliya in kennis gestel dat ’n liggaam in ’n lykshuis in Suidoos-Oekraïne as dié van Nazar geïdentifiseer is, gebaseer op ’n DNS-monster wat sy voorsien het. Die familie het hom begrawe.
Nou, met sy onverwagse terugkeer, sê Nataliya: “Ek hoop alle moeders en families kry ’n oproep soos ons en ervaar hierdie geluk.” “Ek wag net om my seun styf vas te hou. Ek is so lief vir hom.”
Bronne: blue news, Reporteri.net, BBC





