KYK: Olifantrob kuier in Gordonsbaai

Lees ook :

Foto: DBV

GORDONSBAAI. – ‘n Ongewone besoeker het Maandagoggend vir opwinding gesorg in Gordonsbaai toe ‘n sub-volwasse manlike olifantrob oornag sy pad na ‘n residensiële area gevind het. Sedert 07:00 vanoggend is ‘n gekoördineerde reddingsoperasie aan die gang om die seedier veilig en sonder stres terug te neem na sy natuurlike omgewing.

Belinda Abrahams, woordvoerder van die Kaap die Goeie Hoop DBV, het aan Nuusflits bevestig dat alle hulpdienste saamwerk in ‘n goed beplande reddingspoging. “Die Kaap die Goeie Hoop DBV se inspekteurs is sedert omstreeks 07:00 vanoggend op die toneel in Gordonsbaai om die welsyn van die olifantrob te prioritiseer. Hy het oornag by die woonbuurt aangekom. ’n Reddingsplan is in werking en die situasie is tans onder beheer.”

Sy sê hulle wag tans vir ‘n wildveearts wat die rob sal sedeer om hom veilig terug te vervoer na sy natuurlike habitat. “Die Stad Kaapstad se mariene eenheid is ook op die toneel met ’n groot wildvang-sleepwa om met vervoer te help en ons ontvang ook ondersteuning van SANParke, Two Oceans Aquarium, sowel as Shark Spotters. Ons is ook baie dankbaar vir die bystand van wetstoepassing, verkeersdienste, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, asook Gordonsbaai Mediese- en Ambulansdienste, tesame met Gordonsbaai Sekuriteitsdienste. Soms vat dit regtig ’n hele gemeenskap.”

Die situasie is onder beheer en alle stappe word geneem om spanning vir die rob te verminder.

Die olifantrob bevind hom tans in Sir Lowry’s Passweg. Die publiek word versoek om die area te vermy sodat die dier nie onnodig versteur word nie.

Hierdie is ’n ontwikkelende storie. Ons sal voortgaan om lesers op hoogte te hou.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief