LIMPOPO. – Die liggame van ‘n manlike (71) en vroulike toeris is Vrydagmiddag drywend in die Levubu-rivier naby Crooks Corner in die Krugerwildtuin ontdek. Beide liggame het steekwonde aan hul bolywe gehad. ‘n Groen dubbelkajuit Ford Ranger-bakkie wat na bewering deur die slagoffers gebruik is, word vermis.
Die bestuur van SANParke het met skok en hartseer kennis geneem van die ontdekking van die liggame van twee toeriste in die Pafuri-gedeelte van die wildtuin.
Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê volgens voorlopige inligting het die man en ‘n vrou, wie se identiteit nog bevestig moet word, op 17 Mei in die bakkie by een van die kampe in die Krugerwildtuin aangekom. Die paar is die oggend van 20 Mei laas by die Pafuri-piekniekplek gesien. Toe hulle nie terugkeer nie, is ‘n soekoperasie geloods.
Mashaba sê voorts ‘n span ervare speurders is gemobiliseer om die verdagtes op te spoor. Die publiek is verseker dat die maksimum hulpbronne ingespan word om geregtigheid te laat geskied. Twee klagtes van moord en kaping is geopen.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, het haar kommer uitgespreek ná die ontdekking van die vermoorde paar. Dimpane het die polisie in Limpopo opdrag gegee om sonder versuim die verantwoordelikes op te spoor en die vermiste voertuig terug te kry.
JP Louw, hoof van kommunikasie en woordvoerder van SANParke, sê beamptes het Donderdagaand besef dat die toeriste nie teruggekeer het nie, waarna ‘n soekoperasie onmiddellik geloods is en die liggame eers Vrydag deur ander toeriste gevind is.
Willie Aucamp, die minister van bosbou, visserye en die omgewing, het die voorval as ‘n eerste in die geskiedenis vir die Krugerwildtuin beskryf en sy diepe skok daaroor uitgespreek. Die naasbestaandes van die oorledenes is in kennis gestel. SANParke sal die familie met vervoer na Limpopo, sowel as verblyf- en repatriasiekoste ondersteun. Die minister en die raad en bestuur van SANParke het hul innige meegevoel met die familie en vriende van die oorledenes betuig.
Enigiemand met relevante inligting word dringend versoek om lt.kol. Rodney Ndou by 082 807 2666 of 082 414 2481 te bel.


Foto’s: E-brosjure SANParke





