Suid-Afrika se minister van menslike nedersettings, Thembi Simelane, het sterk gereageer op toenemende kritiek op die voorgestelde Ontruimingswetsontwerp.
Volgens Simelane is die wetgewing daarop gemik om ’n balans te skep tussen die regte van eiendomeienaars en dié van kwesbare gemeenskappe.
Die wetsontwerp het reeds ’n hewige debat in politieke en burgerlike kringe ontketen. Die burgerlike beweging Abahlali boMjondolohet het die wetsontwerp verwerp en dit as “anti-arm” bestempel.
Luidens verslae het Simelane beklemtoon dat die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond nie haweloosheid bevorder nie.
Sy hou vol dat die wetsontwerp daarop gemik is om orde en regsekerheid te versterk, sonder om grondwetlike beskerming vir kwesbare gemeenskappe te ondermyn.
“Die doel is nie om armoede te kriminaliseer nie, maar om duidelikheid en billikheid in ’n komplekse regsruimte te bring,” het Simelane in reaksie op die kritiek gesê.
Volgens die departement is die doel van die wetsontwerp om ontruimingsprosesse te stroomlyn.
Suid-Afrika se ontruimingswette word reeds deur die Grondwet en sleutelwetgewing soos die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting gereguleer. Dié wet bepaal dat ontruimings regverdig en billik moet wees en slegs met hofgoedkeuring mag plaasvind.
Die debat duur voort en die departement van menslike nedersettings het 60 dae toegestaan vir die publiek om kommentaar in te dien. Voorleggings word teen middel Junie verwag.
Bron: SABC Nuus





