NOORD-WES. – ‘n Man (38) is ná 03:00 op Nuwejaar tydens die afvuur van vuurwerk in ’n taverne in Lethabong naby Rustenburg dood toe hy glo gesteek is.
Luidens ‘n verklaring deur lt.kol. Sam Tselanyane is vuurwerk in die taverne aan die brand gesteek. Persone in die taverne het beswaar daarteen gemaak en ‘n bakleiery het ontstaan. Die bakleiery het binne en buite die taverne plaasgevind, waartydens die slagoffer met ‘n skerp voorwerk gesteek is. Hy is op die toneel dood verklaar.
Die polisie het twee sake, een van moord en een van kwaadwillige saakbeskadiging, geregistreer. Ná die steekvoorval het die persone wat saam met die oorledene was glo die verdagte (45) aangeval, waarna hy gevlug het. Die verdagte se geparkeerde voertuig is daarna aan die brand gesteek. Hy het later hulp by die polisiekantoor gevra, waar hy as moordverdagte geïdentifiseer en in hegtenis geneem is.
Die verdagte sal na verwagting Maandag op ‘n aanklag van moord in die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane verskyn. Verdere inhegtenisnemings word nie uitgesluit nie.





