GAUTENG. – ’n Operasie deur die Johannesburg-metropolisie het beweerde onwettige praktyke wat met voedsel verband hou, in die Johannesburgse middestad aan die lig gebring. Onwettige kosprodukte en vermoedelik gesteelde infrastruktuur is ontdek.
Patrick Jaca, TMPD-kommissaris, het gesê die ontdekking hou ’n ernstige risiko vir die publiek in en oortree nie net plaaslike regulasies nie, maar stel ook inwoners se gesondheid en veiligheid in gevaar. Beamptes het, nadat straatverkopers tydens ’n operasie in die middestad gevlug het, op die perseel op ’n sogenaamde “voedsellaboratorium” afgekom waar houers vervalde sappe en jogurt met chemikalieë behandel is om ou vervaldatums te verwyder en met nuwe, vals etikette te vervang. Daar is ook op afgesnyde elektriese kabels beslag gelê wat glo van munisipale infrastruktuur gesteel is en moontlik tot kragonderbrekings bydra.
Die JMPD het op al die produkte en kabels beslag gelê en doen ’n beroep op die publiek om versigtig te wees wanneer hulle by informele verkopers koop, asook om enige verdagte aktiwiteite by 011 375 5918 of 0800 002 587 aan te meld.







