GAUTENG. – Lebogang Maile, die Gautengse LUR vir onderwys, sport, kuns, kultuur en ontspanning, het die aankondiging deur Oprah Winfrey oor die volgende fase van die Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls (OWLAG) verwelkom en dit as ‘n belangrike mylpaal vir onderwys vir meisies in Suid-Afrika beskryf.
Die akademie se nuwe fase behels die uitbreiding na ‘n nasionale beursprogram, waardeur meer akademies talentvolle jong vroue regoor Suid-Afrika toegang tot gehalte-onderwys sal kry. Maile sê dié stap bou voort op die instelling se nalatenskap en sal nog meer gemeenskappe bevoordeel.
Maile sê die akademie het sedert sy ontstaan in 2007 meer as 1 000 akademies begaafde meisies uit minderbevoorregte gemeenskappe die geleentheid gebied om gehalte-opleiding te ontvang. Volgens hom het die instelling oor bykans twee dekades jong vroue toegerus met die kennis, leierskapvaardighede en selfvertroue om ‘n verskil in hul gemeenskappe te maak. Hy het Winfrey bedank vir haar visie, ruimhartigheid en volgehoue belegging in die opvoeding van Suid-Afrikaanse meisies. Volgens Maile het die akademie nie net onderwys gelewer nie, maar ook nuwe geleenthede geskep, hoop gebring en talle lewens verander.
Hy het bevestig dat die akademie se residensiële kampus, soos in die oorspronklike vennootskapsooreenkoms bepaal, ná afloop van die 2027- akademiese jaar aan die Gautengse departement van onderwys oorgedra sal word. Administratiewe prosesse om die oordrag te finaliseer is reeds aan die gang. Volgens Maile is die departement daartoe verbind om die akademie se tradisie van akademiese uitnemendheid, etiese leierskap en opvoedkundige geleenthede te behou en verder uit te bou.
Hy het ook die versekering verwelkom dat alle huidige leerlinge hul skoolloopbaan by die akademie sal voltooi met ononderbroke akademiese, finansiële en persoonlike ondersteuning. Maile sê Winfrey se belegging in die opvoeding van meisies sal nog geslagte lank ‘n positiewe invloed hê en beklemtoon dat die bemagtiging van jong vroue ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van Suid-Afrika speel.






