PRETORIA. – Pretoria se skole-atletiekprogram het hierdie week sy hoogtepunt bereik met die interhoër-byeenkomste in die A tot E-bondafdelings. Van opkomende sterre in die laer afdelings tot gevestigde kragstasies in die topbond, het atlete Pilditch-stadion rooiwarm gehad met uitstaande vertonings in alle ouderdomsgroepe.
A-Bond – Menlopark se oorheersing duur voort
Tydens Vrydag se A-bondbyeenkoms het Hoërskool Menlopark weereens hul stempel afdruk en die algehele kampioenskap ingepalm. Hierdie oorwinning verleng Die Parkies se wenreeks ná ‘n indrukwekkende 25 jaar in Pretoria se topafdeling. Waterkloof het in ‘n stadium gelyk of hul moontlik die Parkies gaan troef. Curro Hazeldean, die bond-nuwelinge, het indrukwekkende vertonings gelewer en derde geëindig.
Algehele Kampioene: Hoërskool Menlopark – 2 524 punte
Tweede: Hoërskool Waterkloof – 2 169 punte
Derde: Curro Hazeldean – 2 081 punte
Afrikaanse Hoër Seunskool het die louere in die seunsafdeling ingepalm, terwyl Menlopark se dogters hul mededingers uitgestof het vir ‘n oorwinning. Verskeie byeenkomsrekords het geval. Megan Nieman het weer vir ‘n nuwe o.18 SA-rekord gesorg, hierdie keer in die 400 m hekkies vir vroue in ‘n tyd van 56.57 sekondes.
B-Bond Interhoër – Eldos breek Oosie-harte
Die B-bondinterhoër Donderdag was ’n wipplankstryd tussen Hoërskool Eldoraigne en Hoërskool Oos-Moot. Eldos het egter as oorwinnaars uit die stryd getree met ‘n skamele 30 punte om die Oosies se harte te breek.
Kampioene: Hoërskool Eldoraigne – 2 629
Naaswenners: Hoërskool Oos-Moot – 2 599
Met dié oorwinning verseker Eldos hul terugkeer na die A-bond vir volgende seisoen. Die gasskool, Hoërskool Brits, verlaat die B-bond volgende jaar.
C-Bond Interhoër – Pretoria-Noord is nommer 1, promosiedrama
Die C-bondbyeenkoms Woensdag het sterk mededinging opgelewer. Hoërskool Pretoria-Noord (2 623) het die kampioenskapstrofee omhoog gehou. Hulle bly egter in die B-bond. In die promosiedrama is besluit om Pretoria Boys High (1 570) en Pretoria Girls High (1 060) se punte te kombineer en te promoveer na die B-bond. Beide Eduplex en Hoërskool Uitsig verlaat die C-bond. Laasjaar het geen relegasie plaasgevind nie nadat die C-bond-byeeenkoms weens reën afgestel is.
D-Bond Interhoër – Tuine triomfeer
Dinsdag se D-bondinterhoër is hewig betwis, maar Hoërskool Tuine het die titel verower en bevordering na die C-bond vir volgende jaar beklink.
Kampioene: Hoërskool Tuine – 2 272 punte
Tweede: Lyttelton Manor High School – 2 132 punte
Derde: Hoërskool Gerrit Maritz – 2 101 punte
E-Bond Interhoër — Willowridge herstel status
Die week het Maandag afgeskop met die E-bondinterhoër, waar Willowridge High School ’n oorheersende vertoning gelewer het om eerste plek te behaal en hul D-bondstatus te herwin.
Pretoria-atletiek is gesond
Van die vasberadenheid in die E-bond tot Menlopark se voortgesette oorheersing in die A-bond, was hierdie week se interhoër-atletiek in Pretoria ’n ware vertoonvenster van plaaslike talent. Dit het gesorg vir vele verrassings en rekords wat wys dat Pretoria se atletiek gesond is en ‘n belowende inleiding is vir die opkomende Gauteng-Noord-kampioenskappe van 13 – 14 Maart.
Vir meer foto’s volg die skakel





