TEXAS, VSA. – Die jong ouers van ’n meisie (6) wat in ‘n hospitaal dood is nadat sy longontsteking ná masels ontwikkel het, het gesê “die masels was nie so erg nie” en dat hulle steeds nie die inenting sal voorstel nie.
Lees ook: Oningeënte kind sterf aan masels in Texas
Dit volg na die ouers geweier het om hulle kind teen masels te laat inent en sy in Februarie oorlede is. Die meisie het longontsteking ontwikkel, wat ’n komplikasie van masels is.
Die meisie se ouers het vertel hulle vier ander kinders, tusssen twee en sewe jaar, het ook masels in ‘n ligte graad gehad, maar hulle het ander behandeling, van ‘n holistiese kliniek, as hulle suster gekry. Die gesin is lede van die Mennoniete-gemeenskap in Texas.
Die pa het gesê hulle dink nie hulle kind se dood is so erg soos die media dit gemaak het nie en “dit was haar tyd op Aarde”. Daar was verskeie berigte in die media na die meisie in Februarie gesterf het toe die maselsuitbraak begin het. ’n Volwasse man is ook kort na die meisie aan masels oorlede.
Volgens die Texas-staatsgesondheidsdienste is daar nou 309 gevalle van masels in Texas en omstreke. Daar is ook 42 gevalle in New Mexico en vier in Oklahoma.
Bronne: Dallas Morning News, Metro, The Independent





