WES-KAAP. – Die Overstrand-munisipaliteit het sy insidentebeheersentrum (ICC) geaktiveer om reaksiemaatreëls te koördineer ná voorvalle van xenofobie en intimidasie teen buitelandse burgers in Kleinmond, Gansbaai en Stanford.
Dr. Dean O’Neill, die munisipale bestuurder, sê Woensdag hoewel burgerlike onrus nie direk onder die munisipaliteit se kernfunksies val nie, is daar ’n verantwoordelikheid om hulp te koördineer en die veiligheid van kwesbare mense te verseker. Verskeie munisipale geboue is intussen beskikbaar gestel as tydelike skuiling vir persone wat nie na hul huise kan terugkeer nie. Hy het erken dat sommige inwoners ontevrede is oor die gebruik van hierdie fasiliteite, maar beklemtoon dat dit noodsaaklik is om aan mense skuiling te bied, veral in koue weerstoestande. Die polisie het volgens O’Neill bevestig dat een persoon reeds in Stanford in hegtenis geneem is in verband met openbare-orde-voorvalle.
Amptenare van die departement van binnelandse sake het ook begin om die dokumentasie van buitelanders wat tans in die skuilings gehuisves word, te verifieer. Polisiebeamptes werk saam met munisipale wetstoepassers om die proses te ondersteun. Verteenwoordigers van die Malawiese ambassade het die gebied besoek om bystand aan hul landsburgers te oorweeg, terwyl die munisipaliteit ook met nasionale immigrasie-owerhede skakel oor verdere stappe vir ongedokumenteerde persone.
Die organisasie Gift of the Givers kan moontlik help met vervoer na Johannesburg, waar die naaste nasionale aanhoudingsfasiliteit geleë is. Intussen bly die onmiddellike fokus op die voorsiening van kos, water en noodsaaklike hulpbronne aan die mense wat tans by verskeie plekke gehuisves word. Gemeenskapslede, kerke en welsynsorganisasies werk saam om warm etes te voorsien. Die publiek word aangemoedig om by te dra deur skenkings soos nie-bederfbare kos, water, klere, komberse en ander noodsaaklikhede by aangewese punte af te lewer.
Vir enige donasies kan die volgende nommers gebel word:
• Kleinmond: 028 271 8413
• Gansbaai: 028 384 8365/8364
• Hermanus: 028 313 8112
• Fire & Rescue Emergency Control Room: 028 312 2400
• Overstrand Contact Centre: 028 313 8000/8111
Die volgende getalle getalle mense word tydelik gehuisves:
• Kleinmond-stadsaal: 110
• Gansbaai-toerismesaal: 80
• Gansbaai Moskee: 90
• Stanford-gemeenskapsaal: 140





