Pa en dogters sterf in vermoedelike voorval van moord en selfdood

Lees ook :

Foto: Denzil Govender

KWAZULU-NATAL. – Leon Munsamy (37) en sy twee dogters, Emila en Elana, is Dinsdag dood in hulle huis in Shastri Circle, Belvedere, Tongaat aangetref.

Lt.kol. Paul Magwaza, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die polisie ondersoek twee sake van moord en ‘n geregtelike doodsondersoek.

Samantha Meyrick, IPSS Medical Rescue-woordvoerder, sê paramedici het kort voor middagete op die toneel aangekom, nadat rapportering ontvang is van drie persone wat nie reageer nie. Met aankoms is die twee meisies in ‘n slaapkamer op ’n bed gevind, reeds oorlede. Die pa is ook dood aangetref nadat hy homself glo opgehang het. Die presiese oorsaak van die kinders se dood is nog nie amptelik bevestig nie, maar dit word vermoed dat die pa sy dogters eers om die lewe gebring het. IPSS het sy opregte meegevoel aan die familie van die oorledenes uitgespreek.

Denzil Govender van Ground Zero Search and Rescue het die gesinslede in ‘n plasing geïdentifiseer en sê die pa het vermoedelik eers sy twee dogters, Emilia en Elana vergiftig, voordat hy homself om die lewe gebring het.

Prem Balram van Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die diens is kort voor 13:00 ontbied. Met aankoms op die toneel was die polisie en nooddienste reeds teenwoordig. Die omstandighede wat tot die kinders se dood gelei het, word ondersoek.

Volgens ‘n berig van The Post is die ma deur haar dogters se skoliervervoer ingelig dat hulle nie die betrokke dag skool bygewoon het nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief