WES-KAAP. – Medelye stroom vir Leon en Kyle Olivier, pa en seun, wat Maandagaand saam in ‘n motorfietsongeluk op Giel Bassonrylaan gesterf het. Pa en seun is van die motorfiets af oor die brugreling tot op die N1 aan die onderkant geslinger.
Kyle, ‘n gr. 11 leerling van HTS Drostdy, kranige sportman, wat as hulpvaardig en vriendelik beskryf is, se afsterwe is op die skool se Facebook-blad bekend gemaak.
HTS Drostdy sê: ONS INNIGE MEEGEVOEL
Dit is met groot skok en leedwese dat ons u moet inlig dat een van ons graad 11-leerders, Kyle Olivier, gisteraand saam met sy pa in ‘n motorfietsongeluk oorlede is. Ons vra u om saam met ons in gebed in te tree vir sy ma, familie en vriende in hierdie verskriklike moeilike tyd. Kyle was ‘n kranige rugbyspeler wat in 2025 vir die o. 16A-span sowel as die Boland Grant Khomo-span uitgedraf het. Hy was populêr onder sy vriende en sy onderwysers beskryf hom as ‘n vriendelik seun met ‘n goeie sin vir humor. Hy was ‘n inwoner van Huis Dr. Stals en sy superintendent het hom altyd as hulpvaardig en ‘n ywerige deelnemer aan interkoshuisaktiwiteite ervaar. Ons vra dat u die familie se privaatheid in hierdie hartseer tyd sal respekteer. Ons harte is stukkend en ons Donkie-maat se plek is leeg.
Taurus Medical Film and Sports Medics het ‘n plasing oor die ongeluk op hulle Facebook-blad gemaak. “Motorcycle collision on Giel Basson. Two unfortunately fatally injured after being flung onto N1.” Pa en seun is in die kommentaar op die plasing geïdentifiseer.





