Pa en skoondogter, regsverteenwoordigers, op aanklagte in hof

Lees ook :

Foto: LinkedIn

MPUMALANGA. – Johan Janse van Rensburg (73) en Zietta Janse van Rensburg (40), pa en skoondogter, bekende regsverteenwoordigers van Malelane, het in die Nelspruit-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery wat terugverwys na 2021. Hulle is Maandag by hulle onderskeie huise in Malelane in hegtenis geneem.

Lt.kol. Magonseni Nkosi sê die saak spruit uit ’n ondersoek deur die Valke se eenheid vir ernstige kommersiële misdaad in Nelspruit (Mbombela), toe bevind is die vroulike beskuldigde het glo ’n sakeman met sowat R14 miljoen bedrieg onder die voorwendsel dat sy ’n sakeperseel sou help verkoop. Die geld is volgens die ondersoek in haar skoonpa se bankrekening inbetaal, vermoedelik om die oorsprong daarvan te verbloem.

Johan Janse van Rensburg het weens gesondheidsredes aansoek om borgtog gedoen en is op R10 000 borgtog vrygelaat, onder voorwaarde dat hy sy reisdokumente aan die ondersoekbeampte oorhandig. Zietta Janse van Rensburg het nie vir borgtog aansoek gedoen nie. Die saak is tot 14 April uitgestel wanneer sy na verwagting om borgtog sal aansoek doen, terwyl die volgende hofdatum vir albei beskuldigdes bepaal sal word.

Die Valke sê die ondersoek was omvangryk en kompleks, maar het uiteindelik gelei tot die inhegtenisneming van die twee beskuldigdes. Daar is ook bevind dat die vroulike beskuldigde voorheen in ander onverwante sake in hegtenis geneem is.

Carte Blanche het voorheen oor Zietta Janse van Rensburg berig – druk hier om meer te lees oor hierdie geskorste regsverteenwoordiger.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief