GAUTENG. – ’n Man (32) verskyn vandag op aanklagte van poging tot moord op sy dogter (4) in die Protea-landdroshof.
Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoorvoerder, sê in ‘n verklaring die polisie is Woensdag na ‘n klagte van beweerde kindermishandeling in Eldorado Park ontbied. Met hul aankoms by die adres is hulle na ’n hut in die agterplaas geneem wat gesluit was. Binne het hulle ’n man saam met ’n seun en ’n dogter aangetref.
Die dogter, wat op die bed gelê het, het kopbeserings, kneusplekke en ’n geswelde oog gehad. Die man, wat homself as die kinders se pa voorgestel het, kon nie ’n duidelike verduideliking gee oor wat met die kind gebeur het nie. Hy is deur die polisie in hegtenis geneem en die kind is onmiddellik na ’n nabygeleë mediese sentrum geneem vir behandeling.
Die man is later van poging tot moord en kindermishandeling aangekla.
Verdere ondersoek deur die eenheid vir gesinsgeweld, kindersbeskerming en seksuele misdade het tot die inhegtenisneming gelei van die slagoffer se ma, wat van regsverydeling aangekla is.