INTERNASIONAAL. – Wêreldleiers het Israel se besluit om algehele beheer van Gasastad te neem, gekritiseer en het gesê dit gaan net die humanitêre krisis vererger.
Lees ook: Israel keur volledige oorname van Gasastad goed
Die Verenigde Koninkryk se eerste minister, Keir Starmer, het die besluit veroordeel en het in ’n verklaring gesê: “ Israel se besluit om die oorlog in Gasa te eskaleer, is verkeerd en ons wil hê hulle moet dit dadelik heroorweeg. Die aksie sal niks doen om ’n einde aan die oorlog te bring of help om die gyselaars vry te laat nie, dit sal net meer dood bring. Wat ons nodig het, is ’n skietstilstand, meer humanitêre hulp, Hamas moet die gyselaars vrylaat en oor ’n oplossing moet onderhandel word”. Hy het gesê Hamas “kan nie meer ’n rol speel in die toekoms van Gasa nie en moet loop en hulle wapens neerlê”.
Finland se minister van buitelandse sake, Elina Valtonen, het ook gesê sy is “verskriklik bekommerd” oor die verslegtende humanitêre toestand in Gasa.
Die Australiese minister van buitelandse sake, Penny Wong, het ‘n beroep op Israel gedoen om nie sy besluit uit te voer nie en dat “permanente gedwonge verskuiwing ’n oortreding van die internasionale wet” is.
Donald Trump het gesê die besluit “is Israel s’n” en hy het Hamas blameer vir die onderhandelinge wat nie vorder nie.
Die VN se hoë kommissaris vir menseregte, Volker Türk, het die besluit veroordeel en gesê “dit moet onmiddellik gestop word”.
Bronne: Euronews, BBC, The Times of Israel





