GAUTENG. – Jabulani Moyo word in verband met die skietdood van twee polisiebeamptes gesoek. Twee speurders, ‘n sersant en ‘n adjudant-offisier, is vroeër vandag in Roodepoort doodgeskiet.
Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring Moyo het op aanklag van sakeroof in Februarie 2023 in die Roodepoort-landdroshof voorgekom. Hy is ná sy verskyning deur die speurders in ‘n polisievoertuig terug na die tronk toe vervoer. Die beamptes is geskiet en daarna van hulle vuurwapens ontneem. Die sersant is op die toneel dood verklaar, terwyl die adjudant-offissier later in die hospitaal dood verklaar is. Moyo het met die polisievoertuig weggejaag wat later, enkele kilometers van die misdaadtoneel af, verlate gevind is.
Die polisie het ’n moordsaak met twee aanklagte vir ondersoek geopen. Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan help met die ondersoek of tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei.





