WES-KAAP. – ’n Pa, vermoedelik 50, is Saterdag dood nadat ’n skiboot met vier mense aan boord by die Breederiviermond, Witsand, omgeslaan het.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Reinard Geldenhuys, stasiebevelvoerder van NSRI Agulhas, sê NSRI-Witsand, Agulhas en Stilbaai se diensbemanning is om 08:20 deur ooggetuies vir ’n boot wat by die Breederiviermond omgeslaan het, ontbied. Volgens Geldenhuys was daar vier mense aan boord – die oorledene en sy twee dogters, onderskeidelik 17 en 15 jaar oud, asook ’n manlike vriend, in sy 20’s, van Robertson.
’n Plaaslike vaartuig, die Jolly Rodger, het al vier uit die water gehaal, maar die pa was bewusteloos en het nie reageer nie. KPR is deurentyd toegepas, maar hy is later dood verklaar. Die twee dogters en hul vriend is nie beseer nie.
Die liggaam van die man is aan patologiese dienste oorhandig. Pogings om die boot te herwin, is aan die gang.