GAUTENG. – ’n 14 weke oue macaw (ara) het reddingswerkers Sondagoggend behoorlik op hul tone gehou, toe sy hoog in ’n boom in Centurion vasgesit en luidkeels van bo af “kommentaar” gelewer het.
Volgens ‘n sosialemediaplasing van die Community Emergency Response Team (CERT) is die Centurion-span kort ná 08:00 ontbied om te help, nadat Ruby nie self uit die boom wou kom nie. Weens die hoogte van die bome kon lere nie gebruik word nie en verskeie pogings is aangewend om haar beweging te beperk. Intussen het Ruby luidrugtig gebly; dit het kompleet gelyk of sy die reddingspan van haar sitplek af spot.
Haar eienaars het haar fyn dopgehou totdat sy uiteindelik na ’n bereikbare posisie beweeg het vanwaar sy veilig gered is.
CERT-SA het Fidelity ADT Secure Fire, gemeenskapslede en huiseienaars bedank wat toegang tot hul erwe gegee en bystand verleen het.






