GAUTENG. – ‘n Pasgebore babameisie is laat Maandagaand van ‘n gewisse dood gered nadat sy lewendig in ‘n plastieksak in ‘n oop veld in Doornfontein, Johannesburg, agtergelaat is.
Volgens die Johannesburgse metropolisie (JMPD) het drie beamptes van die Rea Vaya-eenheid kort voor 24:00 roetine patrolliedienste verrig toe die publiek hulle in Saratoga-laan voorgekeer het. Inwoners het gesê hulle hoor ‘n baba in ‘n nabygeleë oop veld huil. Die beamptes is onmiddellik na die toneel, waar hulle op die pasgebore baba, geklee, en in ‘n plastieksak, afgekom het.
Die pasgebore baba is uit die sak gehaal en nooddienste is ontbied. Sy is na die Hillbrow-kliniek geneem waar sy medies ondersoek en gesond verklaar is. Daarna is sy na die Hillbrow-polisiekantoor geneem, waar ‘n saak van kinderverlating geopen is. Die babameisie is sedertdien in die tydelike sorg van ‘n geregistreerde welsynsorganisasie geplaas.
JM Maseko, MV de Jager en NS Malivha, die drie beamptes betrokke, is deur die JMPD vir hul vinnige optrede en toewyding geprys. Die metro sê hul optrede het waarskynlik die baba se lewe gered. Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting oor die voorval of die identiteit van die moeder om na vore te kom.





