GAUTENG. – Die polisie en vennote in die bekamping van misdaad het die publiek gewaarsku oor ’n groot toename in bedrieglike aktiwiteite bekend as “spookboete-bedrog”. Volgens die polisie is hierdie bedrieërs daarop uit om mense te mislei om te betaal vir verkeers- of munisipale boetes wat nie bestaan nie.
Mike Bolhuis, van Specialised Security Services (SSS), sê ‘n “spookboete” is ’n volledig gefabriseerde oortredingskennisgewing. Bedrieërs skep dokumente, e-posse of SMS’e wat lyk of dit van wettige owerhede soos die verkeersdepartement, ’n munisipale hof of selfs van die polisie afkomstig is. Hierdie vals boetes verwys dikwels na vae of nie-bestaande oortredings en vereis onmiddellike betaling onder dreigement van swaar strawwe, inhegtenisneming of selfs die uitreik van ’n “bevel.”
Die polisie verduidelik dat die slaoffer die SMS, e-pos of ander dokument ontvang wat beweer daar is ’n uitstaande boete. So ‘n boodskap skep ’n gevoel van dringendheid deur onmiddelike betaling te eis om addisionele fooie, ’n dagvaarding of die skrap van die rybewys te voorkom. Die bedrieër gee dan instruksies om deur EFT te betaal na ’n persoonlike rekening, kontantdeposito aan ’n individu, voorafgelaaide kaarte of kripto-geldeenhede.
Die polisie waarsku dat ‘n boete waarvan jy nie seker is nie, nooit betaal moet word nie. Kontak die owerheid direk, deur amptelike kanale om die boete te verifieer. Moenie die kontakbesonderhede op die verdagte boodskap wat jy ontvang het, gebruik nie. Daar moet nie net van amptelike kanale gebruik gemaak word om uitstaande boetes na te gaan nie, daar kan ook op spel- en grammatikafoute, onwettige logo’s en betalingsaanvrae aan nie-regeringsentiteite gelet word.
Jan Alleman word ook aangeraai om nie op skakels te klik, aanhangsels af te laai of geld oor te plaas nie. Verdagte optrede moet dadelik by die polisie, die Suid-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS) of die plaaslike munisipaliteit se bedroglyn aangemeld moet word.
Die polisiediens het beklemtoon dat wettige owerhede nooit onmiddellike betaling deur voorafgelaaide kaarte (voucher) of persoonlike EFT’e sal vereis nie.
Druk hier om meer te lees.





