PCOS heet nou PMOS: Wat vroue moet weet

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

‘n Wêreldwye mediese konsensus het veroorsaak dat die naam van ‘n algemene vrouegesondheidsaandoening verander het omdat die ou naam verkeerd en misleidend was. Polisistiese ovariumsindroom, wyd bekend as PCOS, sal voortaan poliendonkrien metaboliese ovarium sindroom — of PMOS — heet.

Die toestand raak een uit elke agt vroue wêreldwyd. Die ou naam het geïmpliseer dat siste op die eierstokke die kernprobleem is, terwyl dit nie die geval is nie. Die toestand is in werklikheid ‘n komplekse hormoon- en metaboliese aandoening wat verskeie liggaamstelsels raak, insluitend die hart, metabolisme, voortplantingstelsel en geestesgesondheid. Vir die miljoene vroue wat jare lank geworstel het om ‘n korrekte diagnose te kry is hierdie naamsverandering meer as net semantiek — dit is ‘n erkenning van hul werklike ervaring.

Die nuwe naam is die resultaat van ‘n omvattende internasionale proses waarby meer as 14 000 pasiënte en gesondheidswerkers van regoor die wêreld betrek is. Die oorgang na die nuwe naam sal oor ‘n tydperk van drie jaar plaasvind.

Maar wat is PMOS?

PMOS is ‘n komplekse toestand wat feitlik elke stelsel in die liggaam raak. Vroue met PMOS het dikwels hoër vlakke van manlike hormone, wat lei tot haargroei op ongewenste plekke soos die gesig en liggaam, hardnekkige aknee en die uitval van hare. Tydens voortplanting ervaar baie vroue onder meer onreëlmatige maandstonde, probleme met ovulasie en hulle sukkel om swanger te raak. Swangerskapskomplikasies kom ook meer voor by vroue met hierdie toestand. Aan die metaboliese kant van PMOS, dalk die mees onderskatte aspek, is sowat 85% van pasiënte het insulienweerstandig. Dit lei dikwels tot gewigstoename, veral om die middel. Dit verhoog ook die risiko vir Tipe 2-diabetes, hoë bloeddruk, cholesterolprobleme, lewersiekte en slaap-apnee. Navorsing toon ook dat vroue met PMOS ‘n merkbaar hoër risiko vir hartaanvalle en beroertes het. Geestesgesondheid word dikwels oor die hoof gesien, maar depressie, angs en eetsteurings kom baie meer voor by vroue met PMOS en hul algehele lewenskwaliteit ly daaronder. Wat die toestand verder bemoeilik, is dat tot 70% van vroue met PMOS nooit ‘n korrekte diagnose ontvang nie. Dit gebeur dikwels omdat die ou naam en beperkte kennis onder dokters en pasiënte tot jare lange vertragings lei.

Wat is behandelingsopsies as jy met PMOS gediagnoseer is?

Daar is geen genesing vir PMOS nie, maar die toestand kan goed bestuur word. Behandeling word gewoonlik aangepas volgens elke vrou se spesifieke simptome en behoeftes. Dit is dus nie ‘n eenvormige benadering nie. Die belangrikste boodskap is dat vroue nie alleen hoef te wees met hierdie toestand nie. ‘n Goeie span dokters, insluitend ‘n ginekoloog, endokrinoloog en waar nodig, ‘n sielkundige, kan saamwerk om die beste behandelingsplan saam te stel.

Die eerste stap is byna altyd verandering aan jou lewenstyl. Gesonde eetgewoontes en gereelde oefening kan ‘n merkbare verskil maak, selfs al verloor ‘n vrou net ‘n klein persentasie van haar liggaamsgewig. Hierdie veranderinge help om insulienweerstand te verminder, hormone te balanseer en menstruasie-siklusse te reguleer. Dit is dikwels die kragtigste instrument wat ‘n vrou tot haar beskikking het. Vir vroue wat sukkel om gewig te verloor deur lewenstylveranderinge alleen, toon navorsing dat medikasie soos dié wat vir gewigsverlies gebruik word toenemend goeie resultate lewer. In uiterste gevalle het bariatriese chirurgie ook bewys dat dit ovulasie kan herstel en simptome aansienlik kan verbeter.

Hormonale behandeling, soos’n voorbehoedpil, word dikwels voorgeskryf om menstruasie-siklusse te reguleer en simptome soos aknee en ongewenste haargroei te verminder. Vir vroue wat swanger wil raak, is daar spesifieke vrugbaarheidsmedisinasie beskikbaar om ovulasie te stimuleer. Metformien, ‘n medikasie wat oorspronklik vir diabetes ontwikkel is, word ook wyd gebruik om insulienweerstand te behandel en hormone te help balanseer.

Vir geestesgesondheid is professionele ondersteuning, soos sielkundige terapie en, waar nodig, medikasie ‘n belangrike deel van ‘n omvattende behandelingsplan. Die emosionele las van PMOS word te dikwels geïgnoreer, terwyl dit ewe veel aandag verdien as die fisiese simptome.

Raadpleeg altyd ‘n mediese praktisyn vir persoonlike mediese advies.

Bronne: The Lancet, Endocrine Society, Wikipedia

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief