PRETORIA – Die televisiepersoonlikheid en geskrapte prokureur Peet Viljoen is borgtog geweier in die multimiljoenrand-bedrogsaak teen hom.
Die hof het bevind dat Viljoen ’n vlugrisiko is.
Die omstrede voormalige prokureur het Maandag in die Pretoria Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof verskyn.
Viljoen staan tereg op meer as 400 aanklagte, waaronder bedrog en korrupsie wat verband hou met die verkoop van munisipale eiendom ter waarde van sowat R27 miljoen in 2010.
Viljoen is in hegtenis geneem nadat hy op die OR Tambo Internasionale Lughawe geland het ná sy deportasie uit die Verenigde State.
Hy is vroeër in Florida in hegtenis geneem nadat hy na bewering winkeldiefstal by ’n bekende supermark gepleeg het.
Viljoen en sy vrou het sedertdien in ’n gesamentlike verklaring op sosiale media om verskoning gevra en onderneem om hul gedrag te verander.