Brekende Nuus
Wêreld

Peter Cullen, stem van Optimus Prime en Eeyore, sterf op 85

Foto: Entertainment Tonight

VSA. – Peter Cullen, die Kanadese akteur en stemkunstenaar, wat vir dekades die stem van Optimus Prime in Transformers en Eeyore in Winnie the Pooh was, is op 85-jarige ouderdom oorlede.

Cullen se familie en Kevin Motley, sy agent, het volgens AP News sy afsterwe by sy huis in Los Angeles bevestig. Hy was volgens berigte omring deur sy familie. Die oorsaak van sy dood is nie bekend gemaak nie.

Cullen het in 1984 die stem van Optimus Prime in die oorspronklike Transformers-televisiereeks geword en het die karakter later in verskeie animasiereekse, videospeletjies en die gewilde rolprentfranchise vertolk. Hy het ook in die 2007-rolprent en daaropvolgende Transformers-films, tot en met Rise of the Beasts in 2023, as Optimus Prime opgetree. Sy ander bekende rol was dié van Eeyore, die neerslagtige donkie in die Winnie the Pooh-franchise. Cullen het die karakter in verskeie televisieprogramme, rolprente en ander produksies vertolk. Hy het ook stemwerk vir onder meer Knight Rider en G.I. Joe gedoen en die ikoniese vokale klanke van die Predator in die 1987-rolprent verskaf. Cullen se loopbaan het oor meer as ses dekades gestrek en hy het in 2023 ’n Lifetime Achievement Award by die Children’s & Family Emmy-toekennings ontvang.

Volgens sy familie laat Cullen ’n nalatenskap van deernis, integriteit en krag agter. Hy word deur sy vier kinders, Angus, Claire, Pilar en Clay, oorleef.

Bronne: Associated Press, Sky News, ITV News