NOORDWES. – ‘n Plaaseienaar is ‘n skulderkenningsboete van R250 000 opgelê nadat die polisie in die Vorstershoop-polisiëringsgebied 23 vermeende ongedokumenteerde buitelandse burgers aangekeer het. Die verdagtes, tussen 21 en 49 jaar oud, sal na verwagting Maandag 29 Junie in die Ganyesa-landdroshof verskyn.
Kol. Anne Magakoe, polisiewoordvoerder, het Saterdag gesê die intelligensiegedrewe operasie het op die R379-grondpad afgespeel waar beamptes ‘n wit Isuzu-vragmotor en ‘n wit Toyota Land Cruiser-enkelkajuit voorgekeer het. Verskeie insittendes het na nabygeleë plase gehardloop, maar die bestuurder en die plaaseienaar is voorgekeer.
Volgens Magakoe is die plaaseienaar versoek om die persone te kontak, waarna hulle vrywillig teruggekeer het sodat hul dokumentasie nagegaan kon word. Verifikasie deur die departement van binnelandse sake in Ganyesa het bevestig dat hul verblyfdokumente verval het of ongeldig was. Die 23 verdagtes is daarop in hegtenis geneem, terwyl die plaaseienaar ‘n skulderkenningsboete van R250 000 ontvang het omdat hy na bewering ongedokumenteerde buitelandse burgers in diens gehad het. Die polisie sê hulle sal voortgaan om saam met relevante rolspelers op te tree om immigrasiewette af te dwing en te verseker dat die land se wetgewing nagekom word.






