MPUMALANGA. – Die polisie in Mpumalanga het bevestig dat interne stappe ingestel is teen ’n lid nadat video’s op sosiale media verskyn het waarin hy in volle uniform sing en dans.
Kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê polisiebestuur in die provinsie het die voorval met erns opgeneem en dat dit nie ooreenstem met die gedrag wat van lede verwag word nie. Hy het beklemtoon dat polisiebeamptes te alle tye professioneel en gedissiplineerd moet optree wanneer hulle uniform dra en dat die gebruik van sosiale media in uniform streng gereguleer word. Die betrokke lid is reeds geïdentifiseer en dissiplinêre prosesse is aan die gang.
Die polisie het gewaarsku dat gedrag wat die beeld van die diens skade berokken, nie geduld sal word nie.





